AfriForum eis antwoorde van KZN-premier na onregmatige erkenning van inkosi
AfriForum het op 24 Junie antwoorde van Thami Ntuli, premier van KwaZulu-Natal, geëis nadat lede van die Mthiyane adelike familie AfriForum genader het om steun nadat B.P. Mthinyane in Maart as inkosi (senior tradisionele leier) van die Mthiyane-Sokhulu Tradisionele Gemeenskap ingehuldig is. Die erkenning van B.P. Mthiyane is toegestaan ten spyte daarvan dat die KwaZulu-Natalse Kommissie vir Tradisionele Leierskapsgeskille en -Eise nog nie hul verslag oor die ondersoek na die geskil tussen B.P. Mthiyane en N.P. Mthiyane bekend gemaak het nie.
AfriForum het gevra dat Ntuli die volgende inligting verskaf:
- Bewyse dat die geskil na die Provinsiale Huis van Tradisionele Leiers verwys is soos bepaal deur die toepaslike wetgewing.
- Redes waarom B.P. Mthiyane erken en ingehuldig is as inkosi terwyl die kommissie se verslag en aanbevelings steeds uitstaande is.
- Redes waarom die spesifieke tydlyne soos voorgeskryf in die toepaslike wetgewing nie nagekom is nie.
- Dui aan watter stappe Ntuli gaan neem om nakoming van die beginsels van wettigheid en regverdige administratiewe optrede te verseker.
- Dui aan watter stappe Ntuli gaan neem om amptenare verantwoordelik vir hierdie aksies aanspreeklik te hou.
Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, werp die besluit om ’n inkosi te erken terwyl die werk van die kommissie wat ’n dispuut daaroor ondersoek nog onafgehandel is, ernstige twyfel op die onafhanklikheid en integriteit van die kommissie, asook op die betroubaarheid en wettigheid van die kommissie se verslag en aanbevelings. “Die feit dat ’n persoon as inkosi erken is voordat die uitkoms van die kommissie en sy verslag aan alle partye gekommunikeer is, is aanduidend van ’n hoë waarskynlikheid dat die kommissie onbehoorlik beïnvloed is – hoe anders kan die uitkoms van die kommissie op hierdie wyse vooruitgeloop word?” sê Uys.
Volgens Uys is die verdeling, chaos en verwoesting wat binne ’n kultuurgemeenskap veroorsaak word deur die onbehoorlike erkenning en inhuldiging van ’n tradisionele leier, wat boonop in stryd is met die beginsels van regverdige administratiewe optrede en wettigheid, goed bekend aan almal wat in voeling is met voetsoolvlakwerklikhede.
“Dit is sulke optrede wat vertroue in die reg en grondwetlike bestuursinstellings vernietig. AfriForum is erg bekommerd oor die ondermyning van kulturele identiteit, kulturele leierskap en gewoontereg asook wat blyk om ’n totale verontagsaming van die reg in KwaZulu-Natal met betrekking tot die tradisionele gemeenskappe van die provinsie te wees,” sluit Uys af.



