Leer kinders vroeg al van geld en die gevare van wanspandering
Deur Chanté Kelder
Die internet is ’n wonderlike ding, maar tog was die mensdom nog nooit so ingelig dog so onkundig soos vandag nie. Daar is ’n magdom inligting wat help dat elke persoon ’n bietjie van alles kan weet, maar daarmee saam is daar ook talle webblaaie wat teer op mense se begeertes en veral jong mense se onkunde uitbuit.
Die nuutste tendens is dat studente hul maandelikse toelaes op aanlyn platforms weg dobbel. Advertensies wat hierdie platforms bemark, verkoop ’n idilliese prentjie van kitsrykdom en ’n glansryke lewe, maar daar is nie genoegsame waarskuwing wat hiermee gepaardgaan om studente te leer wanneer om op te hou of om in die eerste plek nie daarmee te begin nie.
Hierdie platforms is slegs toeganklik vir mense wat 18 jaar en ouer is, maar op 18 is studente eintlik steeds kinders en dit is duidelik dat dit wat kinders in hul ouerhuise en op skool leer van persoonlike finansiële bestuur nie genoegsaam is om hulle voor te berei op die uitdagings waarmee hulle ná skool gekonfronteer word nie.
Benewens die feit dat daar organisasies behoort te wees wat die gevare van dobbelary beter aan studente moet kan kommunikeer, strek die probleem verder as dit. Daar behoort reeds op skoolvlak meer klem geplaas te word op kwessies soos dobbelary, weddery, skuld, begrotings en aanlyn finansiële swendelskemas. Daar is waarskynlik ruimte in die lewensoriëntering-kurrikulum – tussen lesse oor veilige seksuele omgang, die gevare van dwelmmisbruik en groepsdruk – om kinders praktiese wenke te gee wat hulle ná skool kan toepas om te verhoed dat hulle nie hul volwasse lewe reeds met ’n finansiële agterstand aanpak nie.
Finansiële instellings vir studente, soos die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), wat maandelikse toelaes aan studente uitbetaal, behoort ook ’n kursus oor finansiële geletterdheid aan studente beskikbaar te stel om hulle voor te berei.
Dink só daaraan, vir 18 jaar lank was studente se ouers of voogde hul persoonlike finansiële bestuurders. Hulle het selde nodig gehad om te dink oor die waarde van geld en hoe dit bestuur moet word ten einde die beste daaruit te kry nie. As hulle geld wou spandeer dan is daar ’n sekere bedrag vir hulle gegee en hulle kon net weer vra as hulle nog geld nodig het. Nou kry ’n student elke maand ongeveer R3 200, wat hulle nie voorheen gekry het nie, en hulle moet dit bestuur sonder die nodige finansiële geletterdheid in ’n omgewing waar daar nie ervare volwassenes is om hulle te help om hul keuses verantwoordelik te bestuur nie. Voor hulle hulself kan kry is hul geld op, die koskas is leeg en hulle moet hulself tot individue wend by wie hulle geld kan leen om kop bo water te hou.
Lekker is net ’n vinger lank en hoe vinniger jongmense leer hoe om tevrede te wees met wat hulle het en hard te werk vir dit wat hulle graag wil hê hoe beter sal dit oor die lang termyn vir hulle wees. Daar is ongelukkig net vir enkeles iets soos kitsrykdom en dit help nie om jouself te verarm om dit te verkry nog voordat jy behoorlik die volwasse wêreld betree het nie.



