AfriForum eis antwoorde oor Afrikaanse TV-nuus van SAUK met PAIA-versoek
AfriForum het pas ’n formele versoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (ook bekend as PAIA) aan die SAUK gerig om antwoorde oor die toekoms van Afrikaanse TV-nuusuitsendings te eis. Dit volg nadat ’n skrywe aan die voorsitter, uitvoerende hoof en bestuur van die SAUK oor die rede waarom die Afrikaanse TV-nuusbulletin Saterdag 5 April nie soos gebruiklik om 18:15 uitgesaai is nie, onbeantwoord gebly het. Die SAUK het wel gister ’n mediaverklaring uitgereik om te verduidelik dat die weglating van die naweek se nuusbulletins ’n skeduleringsfout was en die toekoms van Afrikaanse TV-nuus seker is.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, stel die verklaring nie gerus nie en duur kommer oor die toekomstige uitsending van Afrikaanse TV-nuusbulletins deur die openbare uitsaaier voort. “As verlede week se weglating net ’n oorsigprobleem was, kon die SAUK hierdie feit lankal in die openbaar of aan alle navraers bekendgemaak het. Nou skep dit die indruk dat daar nasorg toegepas is ná die woedende reaksie van kykers en organisasies soos AfriForum,” meen sy.
Bailey beklemtoon dat dit die plig van die openbare uitsaaier is om te sorg dat die sprekers van alle amptelike tale in die land toegang tot nuus het. Dit sluit alle nuusmedia in – veral radio en TV.
“AfriForum wil agter die kap van die byl kom ten einde oor verdere optrede te besluit. Ons vra dus indringende vrae in die PAIA-versoek oor sake soos kykersgetalle voor én na Augustus 2024 se kanaal- en tydsgleufverskuiwings, asook advertensie-inkomste wat Afrikaanse TV-nuusbulletins toe gegenereer het en nou kry. Ons wil ook weet watter stappe geneem word om te voorkom dat toekomstige uitsendings ‘per ongeluk’ weggelaat word.”
“Nie net Afrikaanssprekendes nie, maar ook die sprekers van ander, kleiner taalgroepe in die land is lankal ontevrede oor nuusbulletins wat op ongerieflike tye uitgesaai word en tye wat verander. Vir baie mense bied die SAUK die enigste TV-nuusdiens waartoe hulle toegang het,” voeg sy by.
AfriForum verteenwoordig Afrikaanse kykers se belange, maar ook graag enige ander taalgemeenskap in die land wat wil aandring op meer regverdige behandeling om toegang tot nuus in hulle eie taal te kry.