|

AfriForum eis aksie ná Tshwane-metro se trae optrede tragedie by Plastic View meebring

Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se versuim om inwoners van onwettige nedersettings te hervestig en onwettige stortingsterreine te beheer het die afgelope naweek noodlottige gevolge gehad. ’n Verwoestende brand by die Plastic View-informele nedersetting in die ooste van Pretoria het Sondag ’n man se lewe geëis en ses strukture vernietig. AfriForum meen dié tragedie was nie net voorkombaar nie, maar ’n direkte gevolg van jarelange versuim deur die metro om sy grondwetlike pligte na te kom.

AfriForum het herhaaldelik gewaarsku dat onwettige stortingsterreine en nedersettings wat met onwettige strukture deurtrek is, ’n ernstige brandgevaar is. Die informele strukture hinder boonop nooddienste se vermoë om betyds toegang tot hierdie gebiede te kry.

“Die lewens van diegene wat in hierdie nedersettings woon word nie net in gevaar gestel nie, maar so ook word die breër gemeenskap se welstand in gedrang gebring. Hierdie nedersettings dra by tot die misdaadkrisis, hou verskeie gesondheidsgevare in en doen ernstige skade aan die omgewing,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

AfriForum eis daarom dat die Tshwane-metro ’n plan forumleer om inwoners van onwettige nedersettings te hervestig en dié gebiede, tesame met onwettige stortingsterreine, tot niet te maak en te rehabiliteer.

“Alternatiewe, wettige behuising en die uitsetting van onwettige besetters is al manier om die veiligheid van al die betrokkenes te verseker. Dit is ook tyd dat die metro verantwoording doen oor hoekom hierdie situasie toegelaat is om só te ontspoor,” sê Hemmens.

Die jongste voorval by hierdie informele nedersetting benadruk waarom AfriForum voortgaan om druk op die metro te plaas om onwettige besetters te hervestig, onwettige stortingsterreine te rehabiliteer en sy verantwoordelikheid teenoor wetsgehoorsame burgers na te kom.

AfriForum doen ’n beroep op die publiek om saam te staan en druk op owerhede te plaas totdat daar werklike verandering plaasvind. Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se plaaslike tak en veiligheidstrukture betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf