AfriForum eis aanspreeklikheid vir SAUK se rondskommel van Afrikaanse TV-nuus en vermaak
AfriForum verwelkom die aankondiging dat die SAUK, ná twee jaar se jakkalsdraaie, Afrikaanse TV-nuus sewe dae per week na die oorspronklike kanaal en tyd (SABC2 om 18:30) terugskuif en meer Afrikaanse programme gaan uitsaai. Die organisasie wil egter weet wie vir die skade wat deur die rondskuiwery van die nuusbulletin en die kansellasie van programme veroorsaak is, aanspreeklik gehou gaan word.
Sedert 2024 het die voorsitter, uitvoerende hoof en bestuur van die SAUK toegelaat dat die nuus lukraak tussen tye en kanale rondgeskuif word en soms sonder waarskuwing weggelaat, of ter wille van sport teruggehou word. Gewilde Afrikaanse programme is gekanselleer en nie vervang nie. AfriForum het telkens gewaarsku dat hierdie besluite die SAUK duur aan kykersgetalle en advertensie-inkomste gaan kos, maar die waarskuwings is tot nou toe in die wind geslaan.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, wys die besluit om met die nuus na SABC2 en die 18:30-tydgleuf terug te keer en selfs ’n nuwe Afrikaanse telenovela uit te saai, dat die waarskuwings gegrond was.
“Ongelukkig het baie kykers nou reeds gewoond geraak daaraan om hulle nuus en vermaak elders te vind en adverteerders het hulle gevolg. Diegene gaan nie sondermeer na SABC2 terugkeer nie, ten spyte van duur bemarkingsoefeninge. Die uitfasering van Afrikaanse programme het boonop ’n negatiewe impak op baie in die bedryf se loopbane gehad en tot ’n uittog van talent aanleiding gegee.”
Bailey meen dat dit ondenkbaar is dat die voorafgaande twee jaar se besluite geneem is sonder dat behoorlike marknavorsing gedoen is. “Die nuus- en vermaaklikheidsbedryf is tans meer kompeterend as ooit tevore en enige bevoegde bestuurspan sal geen ingrypende besluite neem sonder omvattende navorsing nie. Hulle sal hulle beslis ook nie deur ideologie eerder as deur bestuurspraktyke laat lei nie. In die privaatsektor sal die aanspreeklikes wat foute van dié aard maak, verantwoordbaar gehou word. In die openbare sektor waar met belastingbetalers se geld gewerk word, behoort selfs ’n hoër vlak van aanspreeklikheid te geld, maar ons sien geen tekens hiervan nie.”
In 2025 het AfriForum ’n formele versoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (ook bekend as PAIA) aan die SAUK gerig om antwoorde oor die invloed van die skommelings op kykersgetalle en advertensie-inkomste te eis. Daar word nog op dié inligting gewag, maar dit is te verwagte dat die syfers dramaties moet wees om hierdie ommekeer tot gevolg te hê.
“Die Afrikaanssprekende publiek is oor die algemeen kapitaalkragtig en lojaal, maar nie onbeperk só nie,” sê Bailey. “Hulle is die mees diverse taalgemeenskap in die land, en volgens Statista se verslag van 26 Januarie 2026 is Afrikaans die huistaal van 12.2% inwoners van Suid-Afrika. Dit is die derde meeste plaaslike huishoudings naas Zulu (25.3%) en Xhosa (14.8%). Die openbare uitsaaier het ’n plig om veel meer diens aan hierdie gemeenskap te lewer as wat selfs nou die geval gaan wees.”



