|

AfriForum dring aan op antwoorde oor swak vullisterreine in Bloemfontein

AfriForum het op 21 Julie ’n finale skrywe aan die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit gerig waarin die organisasie dringende antwoorde eis oor die haglike toestand van die noordelike en suidelike vullisterreine in Bloemfontein. Hierdie stap volg ná AfriForum reeds op 1 Julie ’n formele skrywe aan Sello More die munisipale bestuurder, gerig het, waarin die munisipaliteit 14 dae gegun is om ’n aksieplan voor te lê vir die rehabilitasie van die terreine.

Tot op hede het AfriForum geen terugvoer van die metro ontvang nie, ondanks die verstryking van die gestelde sperdatum. Die terreine toon ernstige tekorte aan basiese infrastruktuur, veiligheidsmaatreëls en voldoen nie aan die minimum vereistes soos uiteengesit in nasionale wetgewing en munisipale verordeninge nie.

“Die Mangaung-metro moet besef dat hierdie vullisterreine wetlik verplig is om aan sekere standaarde te voldoen. Ons kan nie bloot toekyk hoe hierdie fasiliteite verder verval nie. ’n Weegbrug alleen gaan nie hul probleme oplos nie – daar is verskeie strukturele en bestuursprobleme op die terreine wat reeds lank teen wetgewing indruis,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir AfriForum in Bloemfontein.

AfriForum het in sy finale skrywe aangedui dat die organisasie beoog om die saak na provinsiale en nasionale owerhede te eskaleer indien die metro versuim om betyds en betekenisvol te reageer. Regstappe word ook oorweeg.

Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om druk toe te pas om te verseker dat gemeenskappe nie aan onhigiëniese, gevaarlike en onwettige toestande blootgestel word nie. Die publiek verdien veilige, toeganklike en wettige afvalbestuurfasiliteite.

Soortgelyke plasings