| |

AfriForum Dink of Sink-debatskompetisie: Waarom die kuns van debatvoering belangrik is

Deur Carien Bloem

In ’n wêreld waar inligting oorvloedig en opinies oorverdowend is, word die vermoë om helder te dink, krities te redeneer en met oortuiging te kommunikeer al hoe meer belangrik. Dit is juis hier waar debatvoering sy onmisbare rol in die onderwys begin speel – nie as ’n buitekurrikulêre luukse nie, maar as ’n noodsaaklike vaardigheid vir elke leerder.

Debat leer leerders om meer te doen as om net feite te memoriseer. Dit dwing hulle om standpunte te ontleed, argumente te bou en alternatiewe perspektiewe te oorweeg. Volgens navorsing en praktyk in opvoedkunde bevorder debat kritiese denke, probleemoplossing en selfvertroue – vaardighede wat direk na die werksplek en breër samelewing oorgedra kan word.

In Suid-Afrika speel organisasies soos AfriForum ’n belangrike rol om hierdie vaardighede aktief te ontwikkel. Die Dink of Sink-debatskompetisie, ‘n onderwysinisiatief van AfriForum, is ’n uitstekende voorbeeld van hoe debatvoering prakties en toeganklik gemaak kan word vir jongmense.

Wat Dink of Sink uniek maak, is sy formaat: ’n onvoorbereidedebatkompetisie. Leerders ontvang hul onderwerp eers op die dag en kry slegs ’n paar minute om voor te berei. Hierdie benadering dwing deelnemers om vinnig te dink, logies te redeneer en selfvertroue in hul kommunikasie te ontwikkel.

Die waarde hiervan kan nie oorskat word nie. Soos die projek self beklemtoon, help debat om kommunikasievaardighede te kweek en jongmense aan te moedig om ingelig te wees oor aktuele sake, plaaslik en internasionaal. In ’n tyd van sosiale media en vinnige opinies en reaksies, is dit juis hierdie vermoë om ingelig en gebalanseerd te dink wat jongmense onderskei van mekaar.

Verder leer debat leerders dat elke saak meer as een kant het. Deur soms standpunte te verdedig waarmee hulle nie noodwendig saamstem nie, ontwikkel hulle empatie en ’n dieper begrip van kompleksiteit. Dit bevorder nie net akademiese groei nie, maar ook emosionele intelligensie en respek vir ander se sienings, wat ook een van AfriForum se kernwaardes is.

Die uitbreiding van Dink of Sink na selfs laerskole is ’n besonderse betekenisvolle stap. Dit wys dat hierdie vaardighede nie eers in die hoërskool begin nie – dit moet reeds van jongs af gekweek word. Jong leerders wat vroeg blootstelling kry aan debatvoering, ontwikkel vinniger selfvertroue en leer om hul stem op ’n konstruktiewe manier te gebruik.

Daarom is debat nie net vir toekomstige prokureurs of politici nie. Dit is vir elke leerder wat eendag besluite moet neem, probleme moet oplos en sinvol tot die samelewing en gemeenskap wil bydra.

Inisiatiewe soos Dink of Sink bewys dat debat nie ingewikkeld of ontoeganklik hoef te wees nie – dit kan dinamies, toeganklik tot laer-en hoërskoolleerders en selfs pret wees. Maar die impak daarvan is diep en blywend.

As ons ’n generasie wil grootmaak wat nie net praat nie, maar sinvol praat – nie net luister nie, maar verstaan – dan moet debatvoering ’n kerndeel van ons onderwysstelsel wees.

Sien julle by die volgende Dink of Sink-debatuitdun in jul omgewing.

Tot ons weer gesels in Mei.

Groete

Carien

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf