Speel-speel leer deur inkleur – Afrikaanse inkleurboekies laat kinders glimlag

In 2025 het AfriForum ’n kreatiewe en betekenisvolle projek van stapel gestuur deur Afrikaanse inkleurboekies gratis aan skole te versprei om moedertaalonderrig onder jong leerders te ondersteun. Die projek is steeds volstoom aan die gang en 500 inkleurboekies is onlangs versprei na meer as tien skole in KwaZulu-Natal.
Hierdie boekies, spesifiek vir graad R- tot graad drie-leerders, is spesiaal ontwerp om kinders op ’n eenvoudige en prettige manier te help om nuwe woorde te leer, taalvaardigheid te ontwikkel en selfvertroue in Afrikaans te bou. Elke bladsy bied ’n kans om te ontdek, te dink en te leer.
Die reaksie van skole is oorweldigend positief. Onderwysers sê dat die boekies nie net leer versterk nie, maar ook ’n liefde vir Afrikaans aanwakker. Baie skole het uitgelig hoe waardevol die boekies is, veral op plekke waar hulpbronne beperk is. Kinders geniet dit om saam met hul maats te leer, en vir baie beteken dit dat leer nie net ’n taak is nie, maar ’n avontuur.
“Hierdie inkleurboekies is eenvoudig, maar hulle beteken soveel,” sê AfriForum se Sarel Taljaard wat die boekies aan verskeie skole oorhandig het. “Dit laat kinders glimlag, bou selfvertroue en help hulle trots voel op Afrikaans. Skole waardeer hoe AfriForum met hierdie projek praktiese en toeganklike hulpmiddels voorsien wat werklik ’n verskil maak in die klaskamer.”
AfriForum bly verbind tot die bevordering van moedertaalonderrig en die ondersteuning van skole en jong leerders. Hierdie projek bewys dat selfs ’n klein boekie groot vreugde kan bring, leer pret kan maak en ’n lewenslange liefde vir taal kan inspireer.
Kleuter- en laerskole wat ook in die boekies belangstel, is welkom om AfriForum by onderwys@afriforum.co.za te kontak.



