Lamola, Mbalula en ’n “gepolariseerde samelewing”
Op 11 Maart vanjaar is die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III, deur die Suid-Afrikaanse minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, ingeroep om sommige van sy standpunte te verduidelik. Dit het gevolg op Bozell se opmerking by ’n konferensie in Hermanus dat hy glo “Kill the Boer” is haatspraak. Lamola het volgens berigte aan Bozell gesê dat “hy ons nie moet laat terugkeer na ’n samelewing wat gepolariseer is op grond van ras nie”.
Die openbare uitsprake van Lamola, sy party en hul ideologiese vennote, is egter die toonbeeld van retoriek wat rassepolarisasie aanwakker. Dink maar aan Fikile Mbalula se opmerkings oor die eerste groep Afrikanervlugtelinge wat na die VSA gegaan het: “Binne ’n week na hul aankoms, het hulle begin om mekaar dood te maak […] dit is wat hulle hier [ook] doen. Maak mekaar dood oor iets. Hulle is in die howe, besig om ons mense dood te maak […] besig om swartes dood te maak hier in ons land.” Dink ook aan die adjunkpresident, Paul Mashatile, se opmerking in die parlement: “Óns mense kort grond en ons sal aan hulle grond voorsien,” terwyl die onteieningswet bevorder word, omdat witmense kwansuis te veel grond besit. Mashatile se woordkeuse insinueer dus dat daar twee groepe in Suid-Afrika is: witmense en “ons mense”. Dan het ons nog nie eens begin om te verwys na die regering se talle rassediskriminerende beleide wat die land letterlik op grond van ras verdeel of die howe se goedkeuring van die sing van “Kill the Boer” nie.
ANC-politici is die laastes wat ander daarvan kan beskuldig dat hulle die samelewing polariseer.
Dit is duidelik: die swart politieke elite word die ruimte gegun om die samelewing te verdeel op grond van rasseskeidslyne wanneer dit hulle pas, maar wanneer ander enigiets doen wat die aandag vestig op die regering se dubbele standaarde, dan word dit as onaanvaarbare polarisasie gebrandmerk. ANC-politici is die laastes wat ander daarvan kan beskuldig dat hulle die samelewing polariseer. In hierdie opsig is die potgooier Roman Cabanac korrek wanneer hy sê dat die term “reënboognasie” as psyop aangewend word – ’n sielkundige operasie. Dit werk so: Een deel van die reënboognasie moet deurentyd glo en bely dat Suid-Afrika net uit een gelukkige en eensgesinde nasie bestaan, terwyl ’n ander deel hul voorkeurgroep (en afkeurgroep) binne die reënboognasie mag uitsonder wanneer dit hulle pas. Een groep moet heeltyd glo in die reënboognasie, terwyl die ander groep net die reënboognasie kan ophaal wanneer dit hulle pas.
Wat moet ons dan doen te midde van hierdie dubbele standaarde?
Die eerste is om nie in die lokval te trap om self die hele wêreld deur ’n rasselens te begin bekyk nie. Dit gaan nie help om dieselfde maatstawwe as Mbalula en Mashatile aan te neem, maar net die voorkeurgroep en afkeurgroep om te ruil nie. Dit bly immoreel.
Tweedens moet ’n mens realisties wees oor die mate van eensgesindheid wat daar in Suid-Afrika is, of nie is nie. Daar ís werklike vyandigheid vanaf radikale swart politici teenoor Afrikaners of witmense. Om te maak of dit nie bestaan nie, is om in hul hand te speel. Tog is die meerderheid Suid-Afrikaanse burgers – buite die politieke en media-elite – heel eensgesind en verlang na niks anders as vreedsame naasbestaan met hul medemens nie.
Derdens moet alle inwoners van Suid-Afrika gemaklik daarmee word om hul kulturele en taalidentiteit te omhels sonder enige skuldgevoel. Dit is nie onpatrioties teenoor Suid-Afrika om te erken dat jy aan ’n volk behoort nie. Die ANC se sielkundige operasie ten spyt: jy kán ’n Suid-Afrikaanse paspoort hê, die Springbokke ondersteun én ’n trotse Afrikaner wees.



