|

AfriForum dien strafregtelike klagtes in ná jarelange rioolstorting

Die AfriForum-tak in Vryheid het Vrydag 30 Mei strafregtelike klagtes teen Sbonga Dlamini, bestuurder van die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit, en die munisipaliteit se tegniese bestuurder ingedien. Dit volg nadat riool al vir ’n hele paar jaar vryelik in die Besterspruit loop en die munisipaliteit nie op AfriForum se versoeke gereageer het om hieraan aandag te gee nie. Dié klagtes is by die plaaslike polisiekantoor op Vryheid ingedien.

Boonop vloei riool vryelik in een van die strate in die nedersettings, terwyl klein kinders in die strate speel. Dit hou ernstige gesondheidsrisiko’s vir die gemeenskap in.

“Ons het al verskeie briewe aan die munisipaliteit gestuur en koerantartikels geplaas oor die rioolstorting, maar ons pleidooi val net op dowe ore. Besterspuit vloei enkele meters verder in die Klipfonteindam in, wat ons hoof waterbron is,” sê André van der Walt, AfriForum se voorsitter van die Vryheid-tak.

“Ons kan nie terugstaan en toesien dat Suid-Afrika se waterhulpbronne besoedel word nie. Ons sien daagliks hoe munisipale infrastruktuur verwaarloos word en AfriForum glo die oplossing lê in selfbestuur,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder van KwaZulu-Natal, gesê. 

Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings