|

AfriForum Delportshoop-tak maak waterdreineringslote skoon

AfriForum se Delportshoop-tak het gedurende Augustus 2025 ’n grootskaalse skoonmaakprojek aangepak om die dorp se waterdreineringslote skoon te maak. Die tak het drie groot slote om die dorp skoongemaak en ongeveer ’n bakkievrag vol vullis en tuinvullis verwyder.

Die projek is nodig geag omdat die dreineringslote met rommel, tuinvullis en lang gras versper was, wat ’n risiko vir stormwaterbestuur en die gemeenskap se veiligheid ingehou het. Indien waterdreineringslote nie behoorlik onderhou word nie kan dit lei tot oorstromings. Dit skep ook die ideale broeiplek vir muskiete en ander peste en verhoog die brandgevaar as lang, droë gras gelos word en vullis ophoop.

Volgens Ben Venter, wat die werk namens die tak uitgevoer het, is groot hoeveelhede vullis verwyder, tuinvullis opgetel en lang gras gesny. “Dié projek help nie net met beter waterdreinering nie, maar dra ook by tot ’n netjiese dorp en veiliger omgewing,” sê hy.

Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder in die Karoo, het die tak bedank vir hulle toegewyde werk. “Hierdie is nog ’n voorbeeld van hoe gemeenskappe self inspring waar munisipaliteite tekort skiet. Deur saam te staan, kan ons ’n verskil maak.”

Volgens Smit moet hierdie soort skoonmaakaksies minstens twee maal per jaar geskied, maar die ideaal is dat daar elke kwartaal behoorlik skoongemaak word.

AfriForum moedig inwoners aan om by die Delportshoop-tak betrokke te raak en só te help om ’n daadwerklike verskil in hul omgewing te maak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf