|

AfriForum-buurtwagte in Laeveld wil verhoudinge met plaaslike SAPD versterk

AfriForum het op 9 Junie ’n formele brief aan die plaaslike stasiebevelvoerders van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Laeveld gestuur, waarin die organisasie sy bereidwilligheid uitspreek om bestaande werksverhoudinge met SAPD-strukture in die streek verder te versterk.

Die brief is aan die bevelvoerders van die polisiekantore in Lydenburg, Witrivier, Mbombela en Machadodorp gestuur, omdat AfriForum in elk van hierdie dorpe aktiewe buurtwagte het.

Die brief dien as ’n amptelike voorstel tot verbeterde samewerking en sluit ’n versoek in om ’n stasie-oudit by spesifieke polisiekantore te doen. Die doel van hierdie oudit is om areas te identifiseer waar AfriForum se buurtwagte moontlike ondersteuning kan bied – hetsy deur die beskikbaarstelling van hulpbronne, logistieke ondersteuning of operasionele samewerking.

“Ons is reeds aktief betrokke by gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) in verskeie dorpe in Mpumalanga en dien op talle subforums. Ons wil egter die verhouding met die SAPD verder verdiep deur vas te stel waar ons waarde kan toevoeg tot bestaande strukture,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se buurtwagte bestaan uit opgeleide vrywilligers wat binne die raamwerk van die wet optree en is verbind tot konstruktiewe samewerking met alle wetstoepassingsagentskappe en veiligheidsrolspelers.

“Ons sien hierdie stap nie as ’n kritiek op die polisiediens nie, maar eerder as ’n poging om in ’n gees van vennootskap by te dra tot gemeenskapsveiligheid. Deur sterker bande te bou, kan ons saam meer veerkragtige en veilige gemeenskappe skep,” voeg Van Heerden by.

Die organisasie wag tans op terugvoer van die betrokke polisiekantore en hoop om binnekort met die ouditprosesse te begin.

AfriForum nooi graag lede van die gemeenskap uit om betrokke te raak by die verskeie buurtwagte se projekte om sodoende self verantwoordelikheid te vat oor gemeenskappe se veiligheid.

Soortgelyke plasings