AfriForum-buurtwag help om onwettige immigrante in Plastic View vas te trek
AfriForum se Moreletapark-buurtwag het op 23 Mei die departement van Binnelandse Sake en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gehelp met ’n operasie waartydens ’n aantal onwettige immigrante in die Plastic View informele nedersetting in die ooste van Pretoria vasgetrek is. Die proses om die immigrante, wat nie in besit was van enige geldige dokumentasie nie, te deporteer, is alreeds in werking gestel.
Hierdie operasie is deur die betrokke owerhede gereël en was daarop gemik om die toenemende probleem van onwettige immigrasie, wat bydra tot veiligheids- en sosio-ekonomiese uitdagings in die gemeenskap, te takel.
AfriForum verwelkom hierdie tipe operasies deur die owerhede en beskou dit as ’n belangrike stap in die regte rigting om die krisis met onwettige immigrasie daadwerklik die hoof te bied. Die organisasie glo dat doeltreffende wetstoepassing noodsaaklik is om die veiligheid en stabiliteit van gemeenskappe te bevorder.
“Ons veiligheidstrukture staan altyd gereed om die owerhede te help in hul pogings om ons stede en dorpe veiliger te maak. Deur samewerking tussen gemeenskapsveiligheidsrolspelers en die owerhede kan ons ’n werklike verskil maak,” sê Riaan Jacobs, leier van AfriForum se Moreletapark-buurtwag.
AfriForum spreek sy dank uit teenoor die SAPD en die departement van Binnelandse Sake vir hul vasberadenheid en optrede, en bevestig dat soortgelyke samewerkings in die toekoms ondersteun sal word.