|

AfriForum bied opleiding aan om dreigende waterkrisis te pak

AfriForum het verlede week in samewerking met die Waterinstituut van Suider-Afrika (Wisa) opleiding aan 15 mense aangebied vir vir water- en rioolwaterbehandeling. Dié kandidate, waaronder die meerderheid AfriForum-koördineerders is of AfriForum-lede betrokke by takstrukture oor die land heen, is met die voltooiing van hierdie kursus bemagtig om die dreigende waterkrisis in die land te pak.

Teoretiese en praktiese opleiding is tydens die weeklange kursus aangebied en het besoeke aan twee watersuiweringsaanlegte in Gauteng ingesluit. Bestuurders van hierdie aanlegte het instruktiewe toere van die aanlegte aangebied wat kursusgangers eerstehandse kennis van die werking van hierdie fasiliteite gegee het.

“Waterhulpbronne word toenemend besoedel met riool wat in drinkwaterbronne beland. Al hoe meer watersuiweringsaanlegte in die land word nie na wense bestuur nie en gemeenskappe word al hoe meer blootgestel aan onveilige drinkwater. Daarom is kennis van en opleiding oor water- en rioolwaterbehandeling noodsaaklik om die dreigende krisis te verstaan én op te los,” sê Marais de Vaal, omgewingsakeraadgewer by AfriForum.

“Met die aanvang van die kursus was ek baie negatief oor die waterstelsels in die Oos-Kaap, want daar is veral op die platteland groot probleme. Groter stede, soos Port Elizabeth en Oos-Londen, se stelsels werk egter nog goed en daar is beslis laekoste-oplossings wat op kleiner skaal aangewend kan word om gemeenskappe meer selfstandig te maak. Ná afloop van die kursus is ek dus baie meer hoopvol as toe ek hier aangekom het,” sê Louis van der Vyver. AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Dis eintlik ’n skande hoe sleg dit by die wateraanleg in ons dorp gaan. Soveel goed werk nie. Ek het egter met hierdie opleiding gesien dat daar soveel hulpmiddels is wat ’n verskil kan maak en dat die wateraanleg, met relatief min moeite, op peil gebring kan word,” sê Schalk Burger, AfriForum se takvoorsitter in Parys.

Kursusgangers het ná afloop van die kursus oor aspekte van beide watersuiwering en rioolwaterbehandeling toets geskryf ten einde ’n sertifikaat vir die voltooiing van die kursus te ontvang.

“Ná afloop van die week is kursusgangers beter in staat om hul gemeenskappe se water- en rioolprobleme te takel. Hulle sal ook meer doeltreffend met plaaslike owerhede en munisipaliteite kan kommunikeer en met realistiese oplossings vorendag kan kom. Daar is ’n reusetekort aan kundigheid binne munisipaliteite om water- en rioolsuiwering behoorlik te bestuur en bedryf. Daarom is AfriForum aktief besig om met munisipaliteite te onderhandel om saam te werk om water- en rioolprobleme op te los en hierdie kursus aan munisipaliteite se personeel aan te bied,” sluit De Vaal af.

Soortgelyke plasings