|

AfriForum beklink reuse-oorwinning in jare lange hofstryd teen Vrystaatse premier

AfriForum en die Mafube-sakeforum (MBF) het vroeër vandag ’n reuse-oorwinning in die hooggeregshof in Bloemfontein beklink in ’n jare lange hofstryd teen die premier van die Vrystaat en 12 ander respondente. Die volbank regters het in hul verklarende bevel bevind dat die Vrystaatse premier en ander respondente, waaronder die provinsie se uitvoerende komitee, nie hofbevele wat op 28 April 2022 en 29 Julie 2021 gelewer is, nagekom het nie en dus wel skuldig is aan minagting van die hof.

Vandag se beslissing spruit uit die minagtingsaansoek wat AfriForum gebring het en op 11 Oktober 2024 deur ’n volbank regters in die Bloemfonteinse hooggeregshof aangehoor is. AfriForum en die MBF se saak is daarop gemik om volhoubare dienslewering te verseker in die Mafube Plaaslike Munisipaliteit, wat Frankfort, Tweeling, Villiers en Cornelia insluit. Volgens AfriForum het dienslewering in veral Frankfort so te sê tot stilstand gekom.

Die respondente is vandag onder meer beveel om sonder uitstel ’n finansiële herstelplan te finaliseer en te implementeer; om onmiddellik die besoedeling wat die munisipaliteit se rioolsuiweringsaanleg in die Vaal- en Wilgerivier veroorsaak, te stop; en om binne 60 dae onder eed aan die hof te rapporteer oor die tussentydse maatreëls wat ingestel is om die storting van riool te verhoed.

Regters J. Daffue, S. Chesiwe en S. Hefer het dr. Namane Masemola, adjunkminister van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, in die uitspraak aangehaal en beklemtoon dat die mense van die Vrystaat beter verdien. Hulle voer aan dat munisipaliteite ’n nuwe kultuur van bestuur moet aanneem waarin aanspreeklikheid en verantwoordelikheid vir doeltreffende dienslewering aanvaar word. Voorts voer die regters aan dat die respondente hul grondwetlike verpligtinge hopeloos versaak het en die inwoners van Frankfort en ander dorpe in die Mafube-munisipaliteit se basiese regte geskend het.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, is die hofbevel nóg ’n spyker in die Mafube-munisipaliteit se kis wat dié munisipaliteit se onvermoë om dienste te lewer beklemtoon. “Ons verwelkom die uitspraak en die feit dat die regters daarop wys dat die munisipaliteit nie die nodige fondse het om die opgradering van infrastruktuur te doen nie. Die uitspraak bevestig weer eens dat die munisipaliteit se wanprestasie geen perke ken nie en dat die munisipaliteit ook nie politieke wil het om die probleme te takel nie. Die munisipaliteit sal eerder jare lange litigasie aanpak as om die dorpe se probleme aan te pak. Die tyd is ryp vir gemeenskappe en privaat instansies om toegelaat te word om self dienste te lewer én die invordering van fondse vir daardie dienste te doen,” beklemtoon Grobbelaar.

Christa Ikking, AfriForum se koördineerder vir die sentraalstreek, hou vol die munisipaliteit nie sy statutêre verpligtinge nakom nie en die gemeenskap ernstig in die steek laat as dit by dienslewering kom. “Die uitspraak lys die talle kere wat daar al teen die Mafube-munisipaliteit litigeer is op aanklagtes van swak bestuur en dienslewering, maar hulle steur hulself eenvoudig net nie aan die hofbevele nie. Vandag se uitspraak het egter bevestig dat daar, in gevalle waar daar geen respek vir die howe is nie, respek afgedwing sal word indien nodig.”

Volgens Ikking was die hooffokus van die aansoek om in belang van die munisipaliteit se inwoners op te tree en toe te sien dat dienslewering hier herstel word. “Ons het vandag in ’n groter doel geslaag deur die provinsie te verplig om in te gryp en aan die hof te rapporteer,” sluit Ikking af.

Soortgelyke plasings