|

AfriForum beklink mylpaal-oorwinning: Hof bekragtig nuwe bindende tydlyne

Klankgreep: Morné Mostert (Afrikaans)

Klankgreep: Morné Mostert (Engels)


AfriForum het vandeesweek ’n beslissende oorwinning in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria behaal in sy regsgeding teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa). Kragtens regter Etienne Labuschagne se uitspraak is AfriForum se aansoek om die implementering van spesifieke tydlyne vir alle toekomstige munisipale kragtariefaansoeke toegestaan.  

Dié uitspraak volg ná Labuschagne op 31 Oktober vanjaar beslis het dat Nersa se goedkeuring vir die implementering van munisipale kragtariewe sonder die gebruik van behoorlike kostestudies en openbare deelnameprosesse, ongrondwetlik is. Die regter het hiertydens ook ’n bevel nisi uitgereik met die keerdatum 18 November en alle belanghebbendes, waaronder al 158 munisipaliteite, versoek om redes, indien enige, aan te voer waarom die voorgestelde tydlyne nie goedgekeur moet word nie.

Die hof het nou die volgende jaarlikse tydlyne aan Nersa, Eskom en alle munisipaliteite opgelê:

  • Eskom moet sy kleinhandeltariewe- en strukturele aanpassingsaansoek (ERTSA) jaarliks teen 31 Augustus indien.
  • Nersa moet munisipaliteite jaarliks teen 31 Januarie skriftelik kennis gee van die groothandelprys waarteen krag vir die volgende finansiële jaar aangekoop sal word.
  • Munisipale tariefaansoeke moet teen 20 Maart by Nersa ingedien wees.
  • Nersa moet sy finale besluit oor elke munisipaliteit se tariewe teen 5 Mei neem, en die redes vir die besluit onmiddellik en gelyktydig publiseer.

Benewens die vasstelling van dié tydlyn, het die hof ook beslis dat alle tariefaansoeke én kostestudies openbaar gemaak moet word vir openbare kommentaar – en gevalle waar ’n kostestudie ontbreek, moet Nersa dit uitdruklik aandui. Voorts word geen afwyking van die hofbevel toegelaat sonder die hof se goedkeuring nie.

“Hierdie uitspraak is ’n ware mylpaal vir elektrisiteitsverbruikers oor die hele land heen,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Die hof het ondubbelsinnig bevind dat Nersa se jare lange, sistemiese en volgehoue versuim om tydige en deursigtige prosesse vir tariefverhogings te volg, die openbare deelnameproses heeltemal ondermyn het. Hierdie nuwe reguleringsregime bring ’n permanente einde aan daardie wanpraktyke en skep vir die eerste keer ’n stelsel waar verbruikers werklik en betyds kan deelneem aan besluitneming oor kragtariewe.”

Vandeesweek se hofuitspraak sluit direk aan by die oorwinning wat AfriForum in 2024 beklink het toe die Hooggeregshof beslis het dat Nersa se besluit om munisipaliteite se aansoeke om tariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig en ongeldig was. Kragtens die 2024-uitspraak moet die vasstelling van kragtariewe op deursigtige en volledige kostedata berus.

“Die jongste uitspraak bevestig dié beginsel en beklemtoon dat Nersa wetlik verbind moet word aan vaste sperdatums vir die publikasie van elke tariefaansoek én die meegaande kostestudie wat die publiek se deelname en die integriteit van die proses wesenlik verbeter,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik