|

Afname in misdaad of gebrekkige rekordhouding deur SAPD? AfriForum skepties oor jongste statistiek

Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se aankondiging vandag dat moord en veediefstal in die derde kwartaal van die huidige finansiële jaar (Oktober 2024 – Desember 2024) met onderskeidelik 9,8% en 4,5% afgeneem het, laat AfriForum die akkuraatheid van die jongste nasionale misdaadstatistiek bevraagteken. Dit laat volgens AfriForum ook die vraag ontstaan of die statistiek werklik die realiteit vasvang waarmee gemeenskappe regoor Suid-Afrika te make het.

“Alhoewel die minister se positiewe houding teenoor die bevordering van samewerking tussen gemeenskapstrukture en wetstoepassing prysenswaardig is, bly AfriForum skepties oor die jongste misdaadstatistiek,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

AfriForum se plaas- en buurtwagte, wat op voetsoolvlak met alle soorte misdade te doen kry, het in hierdie tyd geen beduidende verskil in misdaadpatrone opgemerk nie. Inteendeel, AfriForum se plaas- en buurtwagte het die afgelope paar maande op ’n weeklikse basis met inbrake en veediefstalgevalle te doen gehad.

AfriForum se kommer word verder beaam deur die bevindinge van die ouditeur-generaal, wat verlede jaar ernstige onakkuraathede in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadstatistiek aan die lig gebring het. Kwessies soos swak rekordhouding, wanbestuur van dossiere en die versuim om misdaadstatistiek behoorlik vir misdaadbekampingstrategieë te gebruik, het die SAPD se vermoë om misdaad op voetsoolvlak doeltreffend te bekamp, ernstig ondermyn. As die SAPD nie eens misdaad akkuraat kan aanteken nie, is dit moeilik om vertroue te hê in hul vermoë om dit doeltreffend te bekamp.

“AfriForum beywer hom steeds vir die afwenteling van polisiëringsmagte na streeks- en plaaslike vlak, wat gemeenskappe in staat sal stel om beter op hul spesifieke veiligheidsuitdagings te reageer. Plaasaanvalle en ander landelike misdade vereis gespesialiseerde landelike polisiëringseenhede wat vertroud is met die omgewing en ’n betroubare stroom van plaaslike misdaadintelligensie het. Bendegeweld in stedelike gebiede vereis geteikende ingrypings onder leiding van spesialiste met kennis van die gebied se uitdagings. Taxigeweld en moorde wat verband hou met onwettige mynbedrywighede vereis wetstoepassingstrategieë wat eie is aan die betrokke streke en uitvoerbaar is volgens daardie gebiede. Dít is maar een van die redes waarom die afwenteling van polisiëringsmagte sinvol is,” sluit Broodryk af.

AfriForum bly daartoe verbind om gemeenskappe te beskerm sodat hulle nie kwesbaar is vir misdaad nie. AfriForum doen ’n beroep op burger om aktief by hul plaaslike veiligheidstrukture, soos AfriForum se buurt- en plaaswagte, betrokke te raak. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings