|

AfriForum maan Merafong-munisipaliteit om dringend by kragprobleme in te gryp

AfriForum doen ’n beroep op die Merafong Plaaslike Munisipaliteit om voortaan dringend op te tree in die geval van kragonderbrekings en om ’n duidelike aksieplan of oplossing aan die gemeenskap te kommunikeer. Dit volg nadat inwoners van Welverdiend aan die Wes-Rand vir meer as ’n maand sonder elektrisiteit moes klaarkom.

Die Frikkie van der Merwe-substasie was sedert 29 Junie buite werking, wat tot ’n reuse-kragonderbreking in Welverdiend gelei het. Die kragtoevoer na sommige gebiede is uiteindelik op 5 Augustus herstel, terwyl inwoners van Elijah Barayi eers die afgelope naweek weer elektrisiteit gehad het.

Volgens die burgerregteorganisasie het die munisipaliteit die gemeenskap gefaal deur in die eerste plek nie dringend by die kragkrisis in te gryp nie en deur ook nie die inwoners op hoogte te hou oor die vordering aan herstelwerk nie.

AfriForum het verneem dat sewe inwoners, wat afhanklik is van mediese toerusting wat elektrisiteit  benodig, dood is in die tydperk van die kragonderbreking. Volgens Vallerie Killian, ’n plaaslike vrywilliger, hou hierdie sterftes direk verband met dié onderbreking.

In die tydperk van die kragonderbreking het Kilian en haar span onvermoeid gewerk om geaffekteerde gesinne te help deur onder meer voedsel aan behoeftige huishoudings te voorsien.

“Dit is diep betreurenswaardig dat die menswaardigheid van ’n hele gemeenskap só aangetas word weens gebrekkige dienslewering en swak bestuur. Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit sloer om krisisse – soos in hierdie geval ’n reuse-kragonderbreking – met erns te herstel,” sê Lizél Hendriks, AfriForum se ondersteuningskoördineerder vir gemeenskapsake.

AfriForum bedank elke organisasie en rolspeler wat deur volgehoue druk en betrokkenheid gehelp het om die kragtoevoer na Welverdiend te herstel.

AfriForum sal voortgaan om die situasie fyn dop te hou en die betrokke owerhede verantwoordbaar te hou.

Soortgelyke plasings