|

Rioolkrisis in Ekurhuleni-metro bly kwel – AfriForum soek nou antwoorde

’n Oplossing vir die voortslepende rioolkrisis in die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit blyk steeds buite bereik te wees. AfriForum het nou ’n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien om antwoorde van dié metro te bekom.

In sy aansoek versoek die organisasie onder meer inligting oor verslae rakende rioollekasies en besoedeling veral ten opsigte van interne inspeksies en instandhoudingswerk wat verrig moet word. AfriForum het verskeie areas uitgelig waarvoor hierdie inligting voorsien moet word. Dié areas sluit onder meer Benoni en Brakpan in.

Die organisasie versoek voorts dat die metro ’n aanduiding moet gee van watter pompstasies in hierdie areas, indien enige, nog in werking is en tot watter mate. In gevalle waar pompstasies nie funksioneel is nie versoek die organisasie redes waarom dit nie funksioneel is nie en vir hoe lank hierdie stasies al nie funksioneel is nie.

AfriForum versoek ook ’n register van al die klagtes en openbare korrespondensie vanaf 1 Januarie tot 15 Julie vanjaar. Die organisasie wil ook weet wanneer elke klag aangemeld is en of dit al opgelos is al dan nie.

Dit volg ná verskeie skrywes aan die metro om antwoorde en ’n werkbare aksieplan te bekom.

Die Homestead-dam in Benoni is een van die areas wat AfriForum in hul PAIA-aansoek uitlig. AfriForum se Benoni-tak het self al skoonmaakaksies hier aangepak om te help om die omgewing netjies te hou en die inheemse ekosisteem te herstel. Volgens Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, is dit egter nodig dat die metro kyk na die gesondheid van die dam om die werk wat die organisasie om die dam doen te ondersteun.

“Die Ekurhuleni-metro het nou geleentheid tot 3 September om vir ons terugvoer te gee. Ons doen wat ons kan om die omgewing skoon te hou, maar dit is nodig vir die metro om hulle verantwoordelikheid teenoor die gemeenskappe onder hulle bestuur na te kom,” sê Olckers.

Indien die Ekurhuleni-metro nie binne 30 dae op AfriForum se versoek reageer nie sal AfriForum verdere remediërende aksie neem om druk te plaas op die Ekurhuleni-metro.

Soortgelyke plasings