|

AfriForum eis antwoorde ná munisipaliteit nuwe tarief op Vryheid-inwoners hef

AfriForum se Vryheid-tak het duidelikheid by die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit geëis oor die spesifieke finansiële beleide en verordeninge wat hom magtig om ’n nuwe tarief op boorgate te hef sonder om inwoners behoorlik daaroor in kennis te stel of hulle die geleentheid te gee om beswaar daarteen te maak.

Die burgerregteorganisasie se skrywe aan die munisipaliteit volg nadat talle inwoners ’n nuwe tarief vir boorgate op hul munisipale rekeninge opgemerk het. Sommige inwoners is deur dié munisipaliteit vir boorgate belas – selfs al is daar nie boorgate op hul eiendomme nie. Dié soort tarief was boonop nog nooit vantevore gehef nie.

Hiermee saam het verskeie inwoners AfriForum genader oor die huishoudelike elektrisiteitstariewe wat klaarblyklik buitensporig verhoog het.

AfriForum vra in sy skrywe onder meer vir ’n verduideliking van hoe die munisipaliteit die tarief vir die boorgate bepaal het, asook hoe die kragtariewe oor die verskillende gebiede, rekeninge en relevante seisoene bereken word.

“Die inwoners van Vryheid was onkant gevang deur hierdie sogenaamde boorgattarief. Dit was nooit eers in openbare vergaderings bespreek nie,” sê André van der Walt, AfriForum se voorsitter van die Vryheid-tak.

Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, sê dit raak al hoe meer algemeen dat plaaslike munisipaliteite kanse vat en inwoners met verskeie soorte tariewe opsaal. “Munisipaliteite moet eerder werk daarvan maak om effektiewe bestuurspraktyke in werking te stel en te implementeer as om inwoners verder te belas.”

AfriForum sal alle beskikbare remedies gebruik indien die munisipaliteit versuim om terugvoer op die aangeleentheid te gee.

Soortgelyke plasings