Riool
|

AfriForum behaal hofoorwinning om sanitasiekrisis in Klerksdorp om te keer

AfriForum het ’n deurslaggewende oorwinning in die Noordwes-hooggeregshof behaal teen die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit en verskeie ander staatsinstansies weens die voortdurende verval van die Klerksdorp-rioleringsaanleg.

Die hof het op 24 Julie AfriForum se aanvullende aansoek toegestaan om die munisipaliteit tot groter verantwoordbaarheid te dwing. Hierdie uitspraak volg nadat die hof reeds op 19 Januarie 2023 ’n bevel uitgereik het waarin die munisipaliteit opdrag gekry het om meer gereeld toe te sien om herstelwerk te doen en meer spesifiek beheermaatreëls te implementeer met betrekking tot die sekuriteit van die aanleg. In die jongste uitspraak is dié bevel verder versterk deur meer ingrypende stappe te neem.

Gereelde verslae nou ’n hofbevel

Volgens die nuwe hofbevel moet die Matlosana-munisipaliteit en sy munisipale bestuurder elke drie maande ’n omvattende verslag indien oor die vordering met elke item in hul herstelplan van 10 Februarie 2023; oor die implementering van veiligheidsmaatreëls teen diefstal en sabotasie by die Klerksdorp-rioleringsaanleg in Phuthaditjhaba-straat; en oor die instandhoudingsplan vir dié aanleg.

Die munisipaliteit moet hierdie verslae lewer totdat die nodige herstelwerk suksesvol afgehandel is en die aanleg weer optimaal funksioneer.

Die hof het verder beveel dat die Matlosana-munisipaliteit die koste van hierdie verrigtinge op skaal C moet dra. Dit dien as verdere vermaning teen die munisipaliteit se nalatigheid en finansiële onverantwoordelikheid.

“Hierdie uitspraak is ’n oorwinning vir omgewingsgeregtigheid en verantwoordbare regering.

Gemeenskappe ly onder die gevolge van vervalle infrastruktuur en onsuksesvolle bestuur. Hierdie uitspraak dwing die owerhede om verantwoordbaar te wees en tree op in belang van die publiek en ons ekostelsels,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

AfriForum moedig inwoners aan om voort te gaan om onreëlmatighede aan te meld, aangesien burgerlike samelewing ’n kragtige teenvoeter is vir staatsverval.

Om aan te sluit by AfriForum se tak in Klerksdorp, kontak Pretorius by 081 392 2071.

Soortgelyke plasings