Venter-plaasmoord: Verdagtes môre weer in hof; AfriForum dring aan op geregtigheid vir Kuruman-boer
Die vier verdagtes wat die afgelope week weer in verband met die moord op Hendrik Venter (81), ’n gerespekteerde veeboer van Kuruman, aangekeer is, sal na verwagting Maandag (4 Augustus) in die Landdroshof in Kuruman verskyn en aansoek doen om borgtog.
Potso Bogodile (21), Jan Tata (18), Orabile Vincent Motsewakgosi (24) en Kabelo Tata (26) is na volgehoue druk van AfriForum en ander rolspelers op 29 Julie vir ’n tweede keer in hegtenis geneem. AfriForum vra nou die hof om nie borgtog aan die verdagtes toe te staan nie weens die erns van die misdaad.
Die einste verdagtes is aanvanklik kort ná Venter se wrede moord op sy plaas op 27 September 2024 gearresteer. Ten spyte van verskeie hofverskynings, is die saak op 10 April van die hofrol verwyder.
AfriForum speel sedert 4 Oktober 2024 ’n aktiewe rol in die regsproses na die moord op Venter toe verteenwoordigers die hofverskyning bygewoon het. Kort daarna, op 19 Oktober, het AfriForum plaasveiligheidsopleiding in Hotazel aangebied. Hierdie opleiding het wenke gebied oor hoe boere hulself en hul families kan beveilig en bevat ook ’n veiligheidsoudit wat boere self kan doen om brandpunte op hul eiendom te identifiseer om vroegtydig die nodige maatreëls in te stel ten einde hul veiligheid te verbeter.
Nadat die saak van die hofrol geskrap is, het AfriForum en ander rolspelers op 2 Junie ’n dringende vergadering gehou om die regsonsekerheid en administratiewe versuim te bespreek. Teen 12 Junie het die burgerregteorganisasie ’n formele skrywe aan Daniel Phiri, senior staatsaanklaer van die Kuruman-landdroshof, gerig waarin hulle ernstige kommer uitgespreek het oor die hantering van die saak. In die brief word versoek dat dringende regstellende stappe geneem word.
Intussen het AfriForum voortdurend met die adjunkdirekteur van openbare vervolging gekommunikeer om druk op die stelsel te plaas vir optrede. Hierdie druk het vrugte afgewerp toe die vier verdagtes op 29 Julie weer in hegtenis geneem is. Die saak is op 30 Julie weer in die hof opgeroep met die verdagtes wat na verwagting môre ’n borgtogaansoek sal bring.
“Hierdie mislukkings in die strafregstelsel moet dringend ondersoek en reggestel word. Die saak moet sonder verwyl na die Hooggeregshof oorgeplaas word, soos vroeër beloof,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se hoof van die Noord-Kaapse streek.
AfriForum eis verder ’n dringende versoek aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om die prosedurele en administratiewe mislukkings in hierdie saak te hersien.
“Dit is nie net ’n administratiewe oorsig nie – dit is ’n regsdwaling. Die NVG is dit aan die Venter-familie én elke familie wat deur plaasaanvalle verwoes is, verskuldig om vir geregtigheid te veg en toe te sien dat sake nie net eenvoudig laat vaar word nie,” sluit Van Dalen af.
AfriForum het ook aangedui dat hulle bereid is om die NVG op enige moontlike manier by te staan – insluitend met privaat forensiese ondersteuning en regsadvies – om te verseker dat hierdie saak doeltreffend en sonder verdere vertraging voortgaan.
AfriForum het hom verbind tot die voortdurende ondersteuning van die Venter-familie en die breër gemeenskap van Kuruman, en sal aanhou om druk toe te pas totdat die saak met die erns en dringendheid behandel word wat dit verdien.