|

Hoë standaarde en sterk stemme by vanjaar se Dink of Sink-debatskompetisie vir universiteitstudente

AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente het die afgelope naweek plaasgevind. Hier het 12 spanne van onderskeidelik StudentePlein, Dagbreek-manskoshuis, die Universiteit van Pretoria en Akademia mekaar die stryd aangesê. Ná ’n naelbyter-finaal tussen StudentePlein 1 en StudentePlein 2 het laasgenoemde as wenners uit die stryd getree.  

Die kompetisie het op Donderdag, 17 Julie 2025 met ’n sosiale geleentheid afgeskop waarna die spanne op Vrydag, 18 Julie in die uitdunrondes en Saterdagoggend, 19 Julie, in die uitkloprondes by Hoërskool Montana deelgeneem het. Die finaal het Saterdagaand tydens ’n galageleentheid by Akademia se Leriba-kampus plaasgevind.

Vanjaar se mosies het gefokus op politiek, regte, ekonomie, filosofie en taal. Die spanne het voor elke ronde slegs een uur gehad om hul argumente voor te berei.

“Die vlak van analitiese denke en retoriese vaardigheid wat deelnemers tydens die debatte ten toon gestel het, getuig van die uitsonderlike gehalte van akademiese debatvoering onder ons jong leiers,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek.

Die finale mosie, “hierdie huis glo dat die prioritisering van Engels as lingua franca in Suid-Afrika ’n voortsetting van koloniale hegemonie is, ten koste van ware meertaligheid en kulturele regverdigheid”, het gesorg vir ’n debat wat die gehoor op die punte van hul stoele gehad het.

Megan Jones, Simoné Shirley, Isabella Burgers en Megan Kruger van StudentePlein 2 het koning gekraai, terwyl StudentePlein 1 se Righardt Pretorius, Ignus Ferreira, Neelsie van Dyk en Stephan Ehlers as naaswenners van die kompetisie aangekondig was.

Verder is daar ook vier spesiale toekennings aan verskeie studente toegeken:

  • C.P. Hoogenhout-prys vir beste spreker: Megan Kruger (StudentePlein 2)
  • Ds. S.J du Toit-prys vir retoriek: Megan Jones (StudentePlein 2)
  • D.F. du Toit-prys vir navorsing: Elsomé Thuynsma (Akademia 1)
  • Arnoldus Pannevis-prys vir die “Wooden Bell”: Hanco Stone (UPDV 3)

“Dink of Sink is meer as net ’n debatskompetisie, dit is ’n platform waar jong denkers hul stem vind, mekaar uitdaag en die toekoms van openbare debat vorm,” sluit Müller, af.

AfriForum bedank graag Kuda Foreign Exchange en Hurter Spies Ingelyf vir die onderskeie borge aan vanjaar se kompetisie.

Soortgelyke plasings