AfriForum neem regstappe teen Johannesburg-metro se verordening oor kringtelevisie
AfriForum het Vrydag 18 Julie ’n aansoek in die Hooggeregshof in Johannesburg gebring om die omstrede verordening oor kringtelevisie wat die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit goedgekeur het, te betwis. Hierdie verordening poog om geslotekringtelevisienetwerke in openbare ruimtes en privaat eiendom, waarvan die dekking openbare ruimtes insluit, te reguleer en te beheer. Die gebruik van tradisionele kringtelevisiekameras, hommeltuie, outomatiese nommerplaatherkenningstelsels en selfs lyfkameras sal deur hierdie verordening gereguleer word. Die burgerregteorganisasie versoek nou die hof om die verordening ongrondwetlik, onwettig en ongeldig te verklaar.
“Hierdie verordening is ’n blatante magsvergryp onder die dekmantel van regulasie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “Dit is ’n poging om buit te maak op jare se privaat belegging, om die reg op privaatheid te ondermyn en waarnemingsvermoë te sentraliseer en te plaas in die hande van ’n munisipaliteit wat voortdurend versuim het om openbare veiligheid te handhaaf.”
Die verordening, wat op 28 Februarie 2025 in die Provinsiale Koerant gepubliseer is, laat staatsamptenare toe om toegang tot privaat infrastruktuur van geslotekringtelevisiekameras te eis, fooie en tariewe te bepaal en selfs kameras sonder ’n hofbevel te konfiskeer of te vernietig. Dit skep ook omvattende magte vir ongespesifiseerde “gemagtigde amptenare” om toegang tot waarnemingsdata te verkry, privaat veiligheidsnetwerke te beheer en die wettige gebruik van beeldmateriaal wat deur gemeenskaps- en kommersiële stelsels versamel word, te beperk.
In sy hofstukke voer AfriForum aan dat die metro versuim het om behoorlike openbare deelname uit te voer, soos vereis deur die Munisipale Stelselswet; dat die verordening verskeie grondwetlike regte skend, insluitend die regte op privaatheid, eiendom, sekuriteit, vryheid van handel en administratiewe geregtigheid; dat daar geen wetlike of grondwetlike mandaat is wat ’n munisipaliteit toelaat om privaat sekuriteitsinfrastruktuur op privaat eiendom te reguleer of fooie daarvoor te hef nie; dat tariewe en permitstelsels irrasioneel en arbitrêr is, en nie regverdigbaar is nie aangesien die metro nie die betrokke dienste lewer of onderhou nie; en dat sleutelgedeeltes van die verordening onvolledig, vaag en onmoontlik is om na te kom, insluitend verwysings na ontbrekende aansoekvorms en skedules.
AfriForum voer ook aan dat die verordening die Wet op die Regulering van die Privaat Sekuriteitsbedryf en die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) ondermyn deur bykomende beperkings op die gebruik van privaat data en waarnemingsbedrywighede te plaas.
“Hierdie saak toon dat die hoofprobleem met openbare veiligheid nie ’n gebrek aan regulering is nie, maar ’n gebrek aan wetstoepassing en wydverspreide politieke inmenging,” voeg Broodryk by. “Die feit dat die metro nou gemeenskapsbeheerde kameranetwerke wil kaap sonder om ’n sent in vergoeding aan te bied, is net nog ’n vorm van onteiening sonder vergoeding.”
AfriForum het voorgestel dat die metro, eerder as om op privaat infrastruktuur beslag te lê, met vrywillige veiligheidsnetwerke soos AfriForum se buurtwagte moet saamwerk, wat geslotekringtelevisie- en patrolliestelsels in gebiede soos Roodepoort en Johannesburg-Noord bedryf, wat intydse data en bystand aan wetstoepassers verskaf.
“AfriForum is nie gekant teen samewerking nie, maar ons het bewese modelle om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en metropolisie te ondersteun deur middel van gedeelde intelligensie- en kamerastelsels. Wat ons wel teenstaan, is gedwonge beheer, fooie, funksie-verskuiwing in waarneming (oftewel ‘surveillance creep’) en regulatoriese misbruik,” sluit Broodryk af.
AfriForum wil ’n hofbevel bekom om die verordening in sy geheel tersyde te stel, met koste teen die Johannesburg-metro. Die Hooggeregshof sal ’n datum vir die aanhoor van die aansoek bevestig.