Tshwane-metro dwing stadsreinigingsheffing af ongeag openbare besware, hangende hofsaak
AfriForum beskou dit as onredelik en onaanvaarbaar dat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit voortgaan met die implementering van die omstrede stadsreinigingsheffing. Dit ten spyte van wydverspreide openbare ongelukkigheid en AfriForum se hangende hofsaak teen die metro oor die regmatigheid van hierdie heffing.
Die Tshwane-metro het vandeesweek voortgegaan om ’n bykomende R223,53 op inwoners se munisipale rekeninge te hef, wat boonop ook ’n bykomende 15% vir BTW insluit. Volgens die metro behoort hierdie heffing slegs van toepassing te wees op individue wat nie van munisipale vullisverwyderingsdienste gebruik maak nie. AfriForum het egter reeds talle klagtes van inwoners ontvang wat wel van die metro se diens gebruik maak, maar steeds die heffing op hul rekeninge vind.
“Nie net word die stadsreinigingsheffing geïmplementeer ondanks hewige teenkanting nie, maar word dit boonop by inwoners gehef wat reeds van die metro se diens gebruik maak. Dit is duidelik dat die metro se administratiewe vermoë tekortskiet en dat hy inwoners selfs verder belas eerder as om die onderliggende oorsake van sy begrotingstekorte die hoof te bied,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
AfriForum sal die Tshwane-metro volgende week op ’n dringende basis in die hof daag om die raadsbesluit oor die implementering van die heffing, te laat hersien. AfriForum voer aan dat geen Pretorianer deur die stadsreinigingsheffing, wat die burgerregteorganisasie as onbillike dubbele belasting beskou, geraak moet word nie. Die saak sal op 24 Julie in die Pretoria Hooggeregshof aangehoor word.
Roodt sê die moontlikheid bestaan dat wetsgehoorsame inwoners vir hierdie heffing moet opdok sonder dat hulle daarvan bewus is. AfriForum doen daarom ’n beroep op inwoners om die burgerregteorganisasie by www.betaaljyteveel.co.za in kennis te stel indien die bykomende heffing op hul rekeninge opmerk word. AfriForum sal met dié terugvoer die saak verder in die hof betwis. Inwoners word ook aangemoedig om ’n klagte by die stadsraad deur die e-Tshwane-platform in te dien.
