|

Beslissende optrede van Finansies-minister teen munisipaliteite lank reeds nodig – AfriForum

Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)
Klankgreep: Deidré Steffens (Engels)

AfriForum verwelkom die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se besluit om die Julie 2025 uitbetaling van billike-aandeel- en voorwaardelike toelaes aan 39 munisipaliteite terug te hou. Dít weens dié munisipaliteite se versuim om aan hul finansiële verpligtinge te voldoen.  

Ingevolge artikel 216(2) van die Grondwet het die Nasionale Tesourie die mag om oordragte aan staatsorgane te staak indien hulle voortgaan om finansiële bestuursmaatreëls te oortree. Tesourie sal gedeeltes van die fondse  voorwaardelik vrystel vir die betaling van lopende en agterstallige skuld aan waterrade en ander krediteure. Indien daar voldoen word aan dié voorwaardes sal n volgende gedeelte uitbetaal word. Dít is ’n praktiese stap om te verseker dat openbare fondse nie vermors word deur amptenare nie.

Volgens Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir plaaslikeregeringsake, is munisipaliteite vir te lank toegelaat om openbare fondse te vermors sonder enige nagevolge. “Jaar na jaar skets die Ouditeur-Generaal se verslae ’n donker prentjie van munisipale finansies wat gekenmerk word deur onbefondsde begrotings, korrupte tenderprosesse, onreëlmatige uitgawes en onbetaalde statutêre verpligtinge. Ten spyte van herhaalde waarskuwings was daar geen werklike gevolge nie. ’n Gebrek aan optrede het ’n kultuur van wanbestuur en korrupsie gekweek.”

Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit is een van die grootste oortreders in dié geval. Volgens Godongwana se kennisgewing skuld dié munisipaliteit meer as R800 miljoen aan Rand Water alleen.

“Hierdie geweldige skuld bedreig plaaslike watervoorsiening en veral die finansiële volhoubaarheid van waterverskaffers soos Rand Water,” voeg Steffens by.

AfriForum is ook vir jare al in ’n hofstryd teen Rand Water gewikkel om inwoners se regte te beskerm wat weens tekortkominge in munisipaliteite bedreig word. Benewens die miljoene wat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit aan Rand Water skuld word drie ander munisipaliteite ook genoem wie se skuld ook die honderd miljoene kerf oorsteek – die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit. Die gemeenskappe wat onder hierdie munisipaliteite val is elk in die verlede die slagoffers van drakoniese maatreëls gewees as gevolg van hul munisipaliteite, waar onder drukverlaging en beurtwater. Dít in ’n poging om munisipaliteite te dwing om hul uitstaande skuld te vereffen, die pogings was onsuksesvol.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het raadslede en selfs die burgemeester van die Govan Mbeki-munisipaliteit in hul persoonlike hoedanigheid gesamentlik meer as R800 000 in agterstallige munisipale skuld.

“Dit is onaanvaarbaar dat diegene wat aangestel is om te regeer en inkomste in te vorder, onder die grootste wanbetalers tel. Intussen kla munisipale amptenare gereeld oor onwettige elektrisiteitsverbindings wat hul Eskom-rekening laat styg omdat hulle nie die kragverbruik kan meet en daarvoor kan hef nie, maar hulle kyk ander pad om hul eie raadslede wat miljoene skuld te beskerm,” voeg Bekker by.

Gedeeltes van Bethal het in 2024 vir drie maande geen water gehad nie weens drukverlaging wat deur Rand Water toegepas is as gevolg van agterstallige rekeninge. “AfriForum het in hierdie tyd in samewerking met boere uit die gemeenskap 2 miljoen liter water gratis aan die gemeenskap gelewer,” voeg Bekker by.

“AfriForum sal voortgaan om die implementering van die Nasionale Tesourie se plan fyn dop te hou en sal munisipaliteite aanspreeklik hou om aan hierdie voorwaardes te voldoen. Gemeenskappe verdien basiese dienste en ’n eerlike regering, nie ’n kleptokrasie wat openbare geld verorber terwyl inwoners sit met droë krane, rioolbesoedeling en donker strate nie,” sluit Steffens af.

Soortgelyke plasings