|

Sannieshof deurtrek van riool, terwyl Ottosdal se krane doog is

Indien die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit nie dringend ingryp nie, gaan Sannieshof binnekort in ’n riool hool verval. Dít, terwyl Ottosdal sonder water moet klaarkom. AfriForum het die erns van hierdie probleme, wat al ongeveer ’n week duur, in twee onderskeie briewe onder die Tswaing-munisipaliteit se aandag gebring en vir dringende optrede gevra.

In Sannieshof word die sinkslote (French drains) nie gereeld skoongemaak nie, wat veroorsaak dat rou riool in inwoners se erwe opstoot.  Hierdie gebrek aan onderhoud het gelei tot skade aan nabygeleë eiendomme, insluitend gevalle waar die riool die plaveisel opgelig en aansienlike skade aan inwoners se tuine veroorsaak het. Die riool veroorsaak haglike omstandighede vir inwoners van die dorp. In ’n brief aan die munisipaliteit op 24 Junie het AfriForum die munisipaliteit versoek om die probleem spoedig op te los en om oplossings te verskaf om te voorkom dat dit in die toekoms weer gebeur. Sannieshof ervaar ook waterprobleme as gevolg van die swak instandhouding van infrastruktuur.

Intussen gaan die inwoners van Ottosdal gebuk onder watertekorte omdat daar na verneem word probleme is met die pompe wat water aan die dorp moet verskaf. In ’n brief op 30 Junie het AfriForum die munisipaliteit gevra om dringend aandag aan die probleem te gee. Die organisasie het verder versoek dat alternatiewe oplossings ingestel moet word om tydelike verligting vir die dorp te bring.

“AfriForum wil graag antwoorde van die munisipaliteit kry oor die probleme in die onderskeie dorpe. Die munisipaliteit kom nie sy verantwoordelikheid teenoor inwoners na nie daarom sal AfriForum aanhou druk toepas om te verseker dat die munisipaliteit sy dienste doeltreffend lewer,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum wil graag die gemeenskappe aanmoedig om by die organisasie se strukture in Sannieshof en Ottosdal betrokke te raak om saam ’n verskil te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings