Selfdoen die antwoord ná mislukkings vulliskrisis in Tshwane-metro blootlê – AfriForum
Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Soundbite: Marais de Vaal (English)
Ondanks jare se beplanningsdokumente, konsepbeleide en verordeninge, blyk nasionale doelwitte vir afvalbestuur buite die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se bereik te wees. AfriForum voer aan dat inwoners die prys moet betaal vir die metro se onvoldoende begroting, ernstige hulpbrontekorte en afwesigheid van realistiese tydlyne. Die burgerregteorganisasie hou vol dat gemeenskappe eerder hul afhanklikheid van munisipale stelsels, wat keer op keer faal, moet verminder.
Die nasionale afvalbestuurstrategie (NWMS) vereis dat munisipaliteite teen vanjaar altesaam 40% van afval van vullisterreine af herlei en programme implementeer om die sortering van herwinbare materiale by die bron (huishoudings en ondernemings) aan te moedig. Tydens ’n onlangse voorlegging aan die parlement het dit aan die lig gekom dat die metro ernstig tekort skiet aan hierdie vereistes.
Slegs 5% van vullis word tans van vullisterreine afgelei en dit word toegeskryf aan die werk wat informele vullissorteerders doen. Hiermee saam het die Tshwane-metro minder as 100 huishoudings gekry om aan sy amptelike herwinningsprojek deel te neem. Intussen is onwettige storting toegelaat om hoogty te vier, veral in die westelike en suidelike dele van die munisipale gebied waar vullisterreine gesluit het. Die oorblywende vullisterreine, soos dié in Soshanguve en Bronkhorstspruit, sal binne drie jaar vol wees, terwyl Ga-Rankuwa en Hatherley kort daarna sal volg.
Ten spyte van hierdie dringende probleme, toon die jongste mediumtermynraamwerk vir uitgawes dat die metro heeltemal onvoorbereid is vir die koste verbonde aan voldoende afvalbestuur. Terwyl dit R137 miljoen per jaar kos om vullisterreine in werking te hou, word slegs R800 000 opsy gesit vir afvalbestuursprojekte in die 2024/2025-boekjaar. Dit is slegs 1% van die metro se kapitaalbegroting. Dit is nie naastenby genoeg om herwinningsinfrastruktuur te bou, komposaanlegte te begin of lugspasie op vullisterreine uit te brei nie.
Terwyl die metro beplan om R210 miljoen in 2025/26 te bestee aan die aankoop van vullisverwyderingsvragmotors, doen dit niks om herwinning by die bron aan te moedig, wettige nakoming af te dwing of fasiliteite te befonds wat sal help om volumes vullis wat op vullisterreine gestort word, te verminder nie. Daar is geen herhalende begroting om die metro se vermoë om wetlike vereistes af te dwing, uit te brei, openbare bewusmakingsveldtogte van stapel te stuur of informele herwinnaars in die formele herwinningsbedryf te integreer nie – alles sleutelpilare van die metro se konsep -geïntegreerde afvalbestuursplan (wat in 2023 bekendgemaak is) en konsep -afvalbestuursverordening.
Volgens Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake, is die tydlyn eenvoudig onhaalbaar. “Die metro se planne is steeds in konsepvorm, sonder enige finansiële pad na implementering nie, terwyl vullisterreine by die dag voller word, onwettige storting toeneem en kostes vir afvalbestuur styg. Sonder werklike data en dringende optrede, sal die stad se inwoners steeds hoër tariewe in die gesig staar, soos die omstrede stadsreinigingsheffing, meer onwettige storting moet trotseer en toenemend blootgestel word aan gesondheidsrisiko’s.”
AfriForum eis dus dat die metro dadelik optree deur maandeliks verslae oor vullisterreine se kapasiteit en vullisverwyderingsyfers te publiseer, asook gedetailleerde rekords oor onwettige storting vry te stel, insluitend die aantal onwettige stortingsterreine wat skoongemaak is, boetes wat uitgereik is en areas waar onwettige storting herhaaldelik voorkom.
“Die openbaarmaking van hierdie inligting bevorder nie net deursigtigheid en verantwoordbaarheid van diegene wat gelas is om die strate skoon te hou nie, maar stel gemeenskappe ook in staat om ’n volhoubare toekoms te bou – met of sonder die hulp van die staat,” sê De Vaal.
Inwoners kan dit nie bekostig om te wag vir die metro se beloftes terwyl befondsing en geloofwaardige tydlyne ontbreek nie. Ingryping op voetsoolvlak bly die enigste waarborg. AfriForum se gemeenskapsgedrewe herwinningsprojekte in Centurion het verlede jaar meer as 3 000 ton afval van vullisterreine afgelei, sonder om die belastingbetaler se las te verhoog.
AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe te ondersteun sodat hierdie mislukte munisipale stelsels nie ’n einde maak aan inwoners se pogings om ’n volhoubare toekoms te bou nie.