|

Noordwes-boer nader privaatvervolgingseenheid ná mislukte poging op sy lewe

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)
Klankgreep: Barry Bateman (Engels)
Klankgreep: Mpho Munyai

Mpho Munyai, ’n boer van die Noordwes, het ses maande ná ’n plaasaanval wat hy glo ’n poging op sy lewe was, AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader. Die plaasaanval het sy seun in ’n kritieke toestand met verskeie skietwonde gelaat. Die privaatvervolgingseenheid het senior lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in dié provinsie genader om dringend terugvoer oor die status van die saak te gee en navraag te doen oor of daar opgetree is op die kritieke inligting wat Munyai aan die ondersoekbeampte verskaf het.

In die vroeë oggendure op 9 Januarie vanjaar het verskeie gewapende mans losgebrand op Munyai se plaashuis naby Magaliesburg. Hoewel Munyai glo dat hy die teiken was, is sy jong seun verskeie kere geskiet. Munyai se spoedige optrede om sy seun by die hospitaal te kry het egter sy lewe gered. Ten spyte van betekenisvolle bewyse wat op die toneel versamel is en selfoondata wat die lig op verskeie verdagtes werp het die SAPD steeds geen deurbraak gemaak nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het Munyai se bekommernisse in ’n skrywe aan Phokeng se streekkommissaris weergegee. Volgens Nel is dit verstaanbaar dat Munyai bekommerd is aangesien die skieters nog nie vasgetrek is nie. Munyai hou vol dat dit ’n poging op sy lewe was en die persoon wat die bevel gegee het is ook steeds nie vasgetrek nie. Nel sê voorts dat die SAPD die privaatvervolgingseenheid se kommer behoort te deel dat, aangesien die beweerde poging op Munyai se lewe misluk het, die sluipmoordenaars enige tyd kan terugkeer om Munyai te vermoor.

“Ek het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader om te verseker dat my saak behoorlik ondersoek en vervolg kan word. Ons huidige strafregstelsel is aan flarde en ondersoeke van sake soos hierdie een word in die proses gekompromitteer. Daarom glo ek dat AfriForum oor die nodige vaardighede en tegniese kennis beskik om individue soos ek, wat vertroue in die strafregstelsel verloor het, te help. Ek glo dat geregtigheid sal geskied, veral vir my seun,” sê Munyai, ’n gewaardeerde lid van die boerderygemeenskap in Noordwes.

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid meen dat die SAPD ’n plig het om boere soos Munyai te beskerm en om deeglike ondersoek in te stel na duidelike sluipmoordpogings ten einde die oortreders tot geregtigheid te roep. “Ons deel Mpho se vermoede dat hierdie ’n poging op sy lewe was. Alhoewel ons dankbaar is dat hy en sy seun hierdie aanval oorleef het, is AfriForum se privaatvervolgingseenheid bekommerd dat die SAPD moontlik nie die kritieke inligting wat Mpho aan die ondersoekbeampte verskaf het deeglik ondersoek het nie. Ons glo dat ’n deeglike ondersoek nie net die gewapende mans sal identifiseer nie, maar ook die meesterbrein. Die privaatvervolgingseenheid het die SAPD gevra om dringend ’n opdatering op die saak te lewer ten einde Mpho se vrees te besweer dat hy en sy kinders steeds in gevaar is,” sê Bateman.

Soortgelyke plasings