Nog ’n oorwinning vir AfriForum in hofsaak waar Johannesburg-metro private skole teiken
Die Hooggeregshof in Johannesburg het die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl, in die saak waar onderwysinstellings deur die metro geteiken word, van die hand gewys. Die metro het appèl aangeteken teen die hof se vorige uitspraak wat sy 2023/2024-verordening oor eiendomsbelasting, asook die eiendomsbelastingsbeleid met betrekking tot die kategorisering van onderriginstellings, tersyde gestel en ongrondwetlik verklaar het. Die hof het ook ’n kostebevel aan die deelnemende applikante, wat AfriForum insluit, toegestaan.
Hierdie uitspraak volg nadat die metro weggedoen het met ’n eiendomskategorie wat vir onderwysinstellings gegeld het en ’n eiendomsbelastingverordening en -beleid aanvaar het wat privaat skole gekategoriseer het as besigheid en kommersieel. Dit het tot ’n drastiese styging in eiendomsbelasting vir private skole en ander onderriginstellings gelei.
Die hof het bevind dat die metro nie sinvol met belanghebbendes – insluitend onafhanklike skole – gekonsulteer het nie, die beste belange van skoliere geïgnoreer het en sodoende artikels 28(2) en 29(1)(a) van die Grondwet oortree het.
In die hoof uitspraak het die hof bevind dat die metro se openbaredeelnameproses met die aanvaarding van die 2023/2024-eiendomsbelastingbeleid onvoldoende was en nie aan grondwetlike en statutêre vereistes voldoen het nie. Tydens die aansoek om verlof tot appèl het die hof van die metro se prokureur gehoor dat die hof gefouteer het deur te beslis dat die metro se openbaredeelnameproses, wat gelei het tot die aanvaarding van die problematiese belastingbeleid, bedrieglik was. Die hof het egter beslis dat die metro nie daarin geslaag het om enige feitelike inligting te identifiseer, wat die hof oor die hoof gesien het nie, en dat dit onwaarskynlik is dat ’n ander hof anders sou beslis.
“Dis tyd dat munisipale amptenare besef dat hulle nie net inwoners kan stoomroller en besluite kan afdwing sonder om ’n voldoende deelnameproses te fasiliteer nie. Inwoners is moeg daarvoor om al hoe meer geld op te dok sonder om ’n sê te hê in hoe dit aangewend word,” sê Deidré Steffens, AfriForum se adviseur vir plaaslikeregeringsake.
Die metro het toe aangevoer dat die hof fouteer het deur te bevind dat “die metro versuim het om die beste belange van die kinders wat onafhanklike skole bywoon, in ag te neem toe hy besluit het om private onderwyseiendomme te herkategoriseer.” Die hof het egter weereens bevind dat daar geen bewyse is dat die metro in die beste belang van kinders opgetree het toe hulle hul beleid aangeneem het nie.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het die groeiende getal kinders wat toegang tot skole in Gauteng benodig, plus die swak gehalte onderrig wat sommige openbare skole aanbied, tot gevolg dat meer private onderriginstellings ontstaan. “Skole sukkel om kop bo water te hou met groot getalle leerders en laer inkomstes. Dan veroorsaak munisipaliteite dat hierdie sektor verder lamgelê word met buitensporige en belaglike eiendomsbelasting. Alle sfere van die regering is veronderstel om hierdie instellings by te staan om te kan groei, nie om dit te teiken en te gebruik om meer inkomste te genereer nie.”
Die hof het uiteindelik bevind dat die metro nie ’n saak uitgemaak het wat redelike vooruitsigte op sukses vir appèl het nie en geen ander oortuigende redes verskaf het om verlof tot appèl toe te staan nie.
In die oorspronklike uitspraak het die hof die metro opdrag gegee om eers aan die vereistes vir openbare deelname, ingevolge toepaslike wetgewing, te voldoen voordat ’n nuwe tariefbeleid en -verordening ter tafel gelê, aangeneem en aangekondig word. Verder moes die metro die oorspronklike tarief toepas wat van toepassing is op eiendomme in die “onderwys”-kategorie, soos uiteengesit in die 2021/2022 munisipale tariefbeleid en -verordening. Hierdie tariewe kan egter vir inflasie aangepas word, naamlik met 4,85% in 2022/2023 en 2% in 2023/2024.
Die hof het die metro verder opdrag gegee om behoorlik met alle belanghebbendes, betrokke skole en applikante te konsulteer wanneer die nuwe verordening en beleid opgestel word.
“AfriForum is verheug oor hierdie uitspraak en dat ons, as ’n burgerregteorganisasie, saam met ander belanghebbendes, die nodige druk kon uitoefen om te verseker dat leerders se belange beskerm word,” sluit Steffens af.