AfriForum kry lasbriewe gereed ná Zuma steeds nie vir regskoste opdok

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)

Soundbite: Louis Boshoff (English)

Byna twee jaar nadat drie howe Jacob Zuma opdrag gegee het om AfriForum se regskoste te dek, skuld dié oudpresident die burgerregteorganisasie steeds meer as R500 000. AfriForum doen nou stappe om lasbriewe vir die beslaglegging van bates te laat uitreik om dié koste te dek. Dit omdat die jongste sperdatum vir betaling (16 Mei) geïgnoreer is.

Dié stappe volg op ’n uitspraak van die Konstitusionele Hof in 2023 wat bevind het dat die toestaan van mediese parool aan Zuma onwettig was. Dieselfde saak het vroeër voor die Pretoriase Hooggeregshof en Hoogste Hof van Appèl gedien en daar is in beide gevalle koste toegeken wat aan AfriForum betaal moet word. Byna twee jaar later het AfriForum slegs die regskoste ontvang vir die saak wat voor die Konstitusionele Hof gekom het, maar nie vir die sake wat voor die Hooggeregshof en Hoogste Hof van Appèl gedien het nie.

Volgens Louis Boshoff, woordvoerder van AfriForum, het Zuma se vertragingstaktieke byna ten einde geloop en sal die burgerregteorganisasie binnekort met ’n bewys van betaling spog óf daar sal op bates beslag gelê word om dit te dek.

“Dit is van kritieke belang dat hierdie regskoste betaal word, want ten spyte van al die bevindinge teen hom, het Zuma weggekom met minimale tyd agter tralies en is hy nou weer aan die stuur van een van die grootste politieke partye in die land. Of Zuma nou president van die ANC- of die MK-party is, die boodskap bly dieselfde: Geen politikus is bo die wet verhewe nie.”

Zuma het in 2021 vir minder as twee maande lank tronkstraf gedien nadat hy geweier het om voor die Zondo-kommissie te getuig. Hy is op 16 Augustus 2021 vrygelaat op mediese parool, maar die toekenning van sy parool is finaal in Julie 2023 deur die Konstitusionele Hof onregmatig bevind. In Oktober 2023 het president Cyril Ramaphosa egter presidensiële kwytskelding aan Zuma verleen, wat beteken dat sy oorblywende tronkstraf geskrap is.

“Omdat Zuma reeds soveel keer verantwoordbaarheid ontduik het, sal dit onaanvaarbaar wees om hom toe te laat om weg te kom sonder om hierdie regskoste te betaal. AfriForum sal daarom tot die uiterste gaan om te verseker dat hierdie koste betaal word,” verduidelik Boshoff.

Soortgelyke plasings