AfriForum begin ondersoek ná vrotappel se aanstelling by Noordwes se parke-en-toerismeraad
Die aanstelling van Morufa Moloto as finansiële hoof by Noordwes se parke-en-toerismeraad, ná sy weens beweerde ongerymdhede ten bedrae van miljoene rande by die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit geskors is en tans uit is op borgtog weens beweerde korrupsie by nóg ’n munisipaliteit, is volgens AfriForum ’n skaamtelose en roekelose ontplooiing van korrupte kaders. Dié aanstelling bevestig dat politieke lojaliteit bó bevoegdheid verhef word en derhalwe die ineenstorting van dienslewering in dié provinsie aanvuur. Die burgerregteorganisasie stuur daarom nou ’n ondersoek van stapel om die moontlike regs- en oorsigremedies te oorweeg om aanspreeklikheid vir dié aanstelling te verseker.
Moloto, die voormalige finansiële hoof van die Kagisano-Molopo Plaaslike Munisipaliteit, is sedert 2018 in die Valke se visier vir beweerde tenderbedrog. Moloto het in die sogenaamde “skootrekenaarskandaal” na bewering ’n tender vir die aankope van agt skootrekenaars aan haar vennoot, Letladi Ramokora, se maatskappy toegestaan in ruil vir omkoopgeld. Ten spyte van dié hangende ondersoek, is Moloto in Januarie 2023 as finansiële hoof van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit aangestel en in April 2024 tot waarnemende munisipale bestuurder bevorder. Moloto en Ramokora is egter in Junie daardie jaar deur die Valke in hegtenis geneem op aanklag van korrupsie in die skootrekenaarsaak. Intussen is Moloto, sowel as die Madibeng-munisipaliteit se burgemeester, munisipale bestuurder en verskeie ander top amptenare, in April vanjaar geskors weens beweerde ongerymdhede in verkryging ten bedrae van miljoene rande en die misbruik van munisipale fondse. Sy is steeds uit op borgtog vir korrupsie.
Volgens Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake, kom Moloto se jongste aanstelling op ’n tyd wat Noordwes se parke-en-toerismeraad reeds op die rand van ineenstorting is. Die entiteit het binne die bestek van net ses maande ses waarnemende uitvoerende hoofde gehad – waarvan nie een behoorlik aangestel is nie. Intussen kan regstappe moontlik teen adv. Matshidiso Mogale, voorsitter van die raad, ingestel word vir sy herhaaldelike ontduiking van oorsigverantwoordelikhede.
Die raad word ook deur ’n ernstige kontantvloeikrisis in die gesig gestaar en kon gevolglik nie in Februarie en Maart vanjaar salarisse betaal nie.
Die parke-en-toerismeraad het boonop ’n afwysende ouditmening by die ouditeur-generaal (OG) gekry vir sy 2023/24- finansiële state, wat beteken dat die OG, weens ontbrekende of onvoldoende dokumentasie, nie die betroubaarheid van die raad se syfers kon bevestig nie. Op voetsoolvlak is die gevolge voor die hand liggend: vervalle parke, lodges wat gesluit is, ’n daling in besoekersgetalle en mislukte biodiversiteitsbestuur.
“Moloto se aanstelling, ten spyte van onopgeloste korrupsieklagtes en ’n rekord van finansiële wangedrag, skend nie net die grondwetlike beginsels van etiese en verantwoordbare openbare administrasie nie, maar blyk ook prosedureel onwettig te wees indien behoorlike keuring geïgnoreer is,” sê De Vaal.
AfriForum berei intussen ’n formele aansoek voor kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) om Moloto se aanstellingsverslag, kandidaat-puntelysrekords, keuringsdokumentasie (insluitend die kontrolering van kriminele- en wangedrag) en die amptelike raadsbesluit wat haar aanstelling bevestig, te bekom. Indien onreëlmatighede gevind word, sal verdere regstappe oorweeg word. AfriForum sal ook ’n openbare verduideliking eis van Bitsa Lenkopane, Noordwes se LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme.
“Kaderontplooiing het verwoestende gevolge waaronder gebroke infrastruktuur, gebrekkige dienslewering en verwaarloosde gemeenskappe. AfriForum sal voortgaan om onbevoegde aanstellings bloot te lê, vir verantwoordbaarheid te veg en veerkragtige gemeenskappe te bou wat nie van ’n mislukte staat afhanklik is nie,” sluit De Vaal af.