|

AfriForum laat gras waai om gevalle helde op Chrissiesmeer te eer

AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak het uit oudergewoonte verskeie projekte aangepak om dié gebied netjies te hou. Die tak het spesifiek daarop gefokus om die historiese begraafplaas op Chrissiesmeer op te knap. Die begraafplaas is deur AfriForum-lede getakel, wat verseker het dat die gevalle helde van die Anglo-Boereoorlog se grafte nie met gras en onkruid toegegroei word nie.

Die tweede projek wat die tak aangepak het, was om die gras op die N17 tot in die dorp te sny. Hierdie projek hou nie net die dorp netjies nie, maar help ook dat motoriste se sig onbelemmerd bly wanneer hulle op dié nasionale pad ry.

“Waarom sal besoekers op Chrissiesmeer stop as die strate verwaarloos lyk? Hierdie projekte is belangrik vir toerisme op die dorp en nog meer om te verseker dat ons erfenis bewaar word,” sê Millicent van den Heever, leier van AfriForum se Chrissiesmeer-buurtwag.

Verder het die tak sy weeklikse vullisverwydering voortgesit en verseker dat die rommel wat in die vullisdromme gegooi is wat AfriForum verlede jaar op strategiese punte op die dorp geplaas het, verwyder word. Daar is altesaam 40 sakke in Mei verwyder. Dit bring die getal sakke vullis wat vanjaar verwyder is op 169 te staan.

Ondersteun AfriForum deur om by die Ermelo- en Chrissiesmeer-tak betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings