AfriForum verwelkom Brittanje se besluit om Malema se visum te weier
Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Soundbite: Ernst van Zyl (English)
Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom Britse owerhede se besluit om ’n visum aan die EFF-leier Julius Malema te weier weens sy ekstremistiese standpunte en retoriek, wat sy oproepe om die doodmaak van wit mense en sy ondersteuning van terreurgroepe soos Hamas insluit. AfriForum bestempel ook die besluit om toekomstige visumaansoeke te verwerp, tensy Malema afstand doen van sy ekstremistiese standpunte en retoriek, as ’n positiewe stap in die belang van menseregte.
In ’n brief aan Malema het die Britse visumkantoor dit duidelik gestel dat sy besluit gegrond is op Malema se getuienis in die Gelykheidshof tydens AfriForum se 2022-hofsaak oor die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang. Malema het destyds getuig dat hy nie die moontlikheid kon uitskakel dat hy nie in die toekoms vir die doodmaak van wit mense sal vra nie. Dié getuienis is direk in die brief aangehaal. Dit is duidelik dat dié AfriForum-hofsaak ook internasionaal ’n kritieke impak het.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, is die Britse regering se definisie van ekstremisme – wat die bevordering van ’n ideologie gebaseer op geweld, haat en onverdraagsaamheid behels – ’n akkurate beskrywing van Malema en die EFF se optrede.
“AfriForum onderneem om sy internasionale pogings teen Malema en ander ekstremistiese politici te verskerp en doen ’n beroep op alle lande met ’n gewete om strafmaatreëls in te stel teen politici vir hul aanhitsing van geweld teen Afrikaners, minderhede en boere,” sluit Van Zyl af.
Die Britse Departement van Binnelandse Sake het aan Malema gesê dat daar geen reg op appèl teen dié besluit of reg op administratiewe hersiening is nie.