AfriForum vra duidelikheid oor nuwe nommerplate voor Gautengers moet opdok
Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Soundbite: Louis Boshoff (English)
AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Gautengse premier en die provinsiale departement van Paaie en Vervoer gerig waarin onder meer gevra word hoeveel die nuwe Gautengse nommerplate motoriste uit die sak sal jaag. Dit volg nadat Panyaza Lesufi, Gautengse premier, verlede week ’n loodsprojek vir die nuwe nommerplate in die provinsie bekendgestel het.
AfriForum waarsku dat dit maklik in ’n baie duur projek kan ontaard wat min tasbare voordele tot gevolg sal hê. Afgesien van die uiterlike spesifikasies van die nommerplate, is daar min duidelikheid oor die projek bekendgemaak. AfriForum rig daarom nou vra aan owerhede oor die beoogde koste en die gepaardgaande herregistrasiekoste van hierdie nommerplate; hoe lank voertuigeienaars gaan hê om na die nuwe nommerplate oor te skakel; en op watter navorsing die besluit geskoei is om nommerplate met bykomende veiligheidskenmerke te vereis.
Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, kan Lesufi se prioriteite met reg bevraagteken word. “Is die bestaande nommerplate regtig dié probleem waarop daar nou gefokus moet word? Centurion is vol sinkgate, Johannesburg is knaend sonder water en in Pretoria brand die substasies, maar die premier het besluit dis tyd vir nuwe nommerplate.”
Lesufi voer aan dat die nuwe nommerplate ’n belangrike rol sal speel in misdaadbekamping, maar dit is onduidelik of hierdie aanspraak enigsins gestaaf kan word. AfriForum voer aan dat daar eerder gefokus kon word op die verbetering van wetstoepassing ten opsigte van die huidige nommerplaatstelsel.
“Baie Gautengers is van mening dat daar niks fout is met hul huidige nommerplate nie, daarom wil hulle nou weet of hulle werklik vir nuwe nommerplate gaan moet betaal wat dalk geen wesenlike bydrae tot hul veiligheid gaan bied nie,” verduidelik Boshoff.
AfriForum sal verdere stappe oorweeg om die implementering van die nuwe nommerplaatstelsel teen te staan, indien die gestelde vrae nie na bevrediging geantwoord word nie.