Water
|

AfriForum maan gemeenskap op ’n mespunt ná Delareyville al 15 dae sonder water sit

AfriForum het vandag in ’n skrywe aan die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit gemaan dat die inwoners van Delareyville dreig om ’n volslae protesaksie van stapel te stuur oor die voortslepende waterkrisis op dié dorp. Indien die munisipaliteit nie gou duidelikheid oor die watersituasie gee nie, is die burgerregteorganisasie bevrees dat inwoners dalk sake in hul eie hande sal neem.

Die dorp is al vir 15 dae sonder water en nog geen duidelike terugvoer is van die munisipaliteit af ontvang nie. Dié munisipaliteit het nie eens ag geslaan op AfriForum se dringende skrywe van verlede week nie.

JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, sê die probleem blyk te wees dat pompe wat water vanaf die Geysdorp-pompstasie na die dorp moet voorsien, uitgebrand het. Daar word glo steeds gewag vir ’n diensverskaffer om die nodige pompe te installeer en te koppel.

AfriForum het by verskeie geleenthede sy hulp aan die munisipaliteit gebied en alternatiewe oplossings voorgestel om toe te sien dat die dorp water het, maar die munisipaliteit het nie eens hierop gereageer nie.

AfriForum het gister met die Delareyville-polisiestasie vergader waar daar inligting ontvang is dat die gemeenskap beplan om die strate in te vaar indien die water nie binnekort herstel word nie. Die burgerregteorganisasie is bekommerd dat ’n moontlike protesoptog kan bydrae tot verdere vertragings met die herstel van watertoevoer na dele van die dorp. 

In nóg ’n skrywe het AfriForum nou gevra dat die munisipaliteit dit duidelik kan stel wanneer die gemeenskap water kan verwag. AfriForum dring ook daarop aan dat die munisipaliteit alle beskikbare hulpbronne aanwend om die probleem spoedig op te los.

“Dis onaanvaarbaar dat die munisipaliteit nie optree en alles in die stryd werp om hierdie probleem so gou moontlik die hoof bied nie. Geen gemeenskap kan funksioneer sonder water nie,” sê Nel.

“Indien die munisipaliteit nie dadelik optree en druk op die diensverskaffer sit om oortyd te werk om die watertoevoer te herstel nie, is dit moontlik dat die gemeenskap hul frustrasies elders kan uithaal, wat nog groter probleme kan veroorsaak. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat hierdie probleem met die nodige dringendheid hanteer word.”

Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Besoek www.wordlid.co.za om te help probleme in jou omgewing te pak.

Soortgelyke plasings