AfriForum gereed om lys van honderde slaggate in Oos-Rand sélf aan te pak
Die AfriForum-takke aan die Oos-Rand is gereed om self die lang lys van slaggate, wat die organisasie vroeër vanjaar aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gestuur het om herstel te word, te takel. Dit volg nadat die metro herhaalde versoeke om die toestand van die paaie op te knap, geïgnoreer het. AfriForum glo egter steeds dat samewerking met die metro die mees volhoubare oplossing sal bied.
AfriForum het op 6 Februarie ’n petisie, wat fokus op die toenemende gevaar wat die slaggate in die Ekurhuleni-metro vir padgebruikers inhou, aan dr. Imogen Mashazi, stadsbestuurder van die metro, gestuur. Minstens 200 Oos-Randse inwoners van Boksburg, Benoni, Germiston, Alberton en Kempton Park het die petisie onderteken in die hoop dat die metro die slaggate sal herstel. Hoewel enkele slaggate sedertdien herstel is, is die meerderheid nog onaangeraak. Opvolg-kommunikasie is op 20 Mei aan Mashazi, sowel as verskeie raadslede, gestuur maar AfriForum wag nou nog op terugvoer.
“Ons verstaan dat hulpbronne beperk kan wees, maar die gemeenskap is toenemend bekommerd oor die gebrek aan sigbare aksie om die paaie te verbeter en duidelike terugvoer van die metro. Daarom het AfriForum besluit om gereed te maak om die slaggate self aan te pak, in belang van padveiligheid en gemeenskapswelstand,” sê Nadia Olckers, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Oos-Rand.
AfriForum se takke in die Oos-Rand het vanjaar reeds ’n indrukwekkende bydrae gemaak tot padveiligheid in die metro. Sedert Januarie tot Mei is 86 slaggate herstel en 176 sakke teer, gelykstaande aan 4,4 ton, is vir hierdie slaggate gebruik. Die totale oppervlakte van dié 86 slaggate is altesaam 354,152 vierkante meter. Hierdie syfers weerspieël die gemeenskap se bereidheid om self op te tree waar plaaslike owerhede versuim om dringend in te gryp.
AfriForum beklemtoon egter dat dit nie die doel is om die metro te vervang nie, maar eerder om as vennoot saam te werk aan oplossings. “Ons is gereed om hande te vat met die Ekurhuleni-metro. Wat ons kort, is oop kommunikasie en ’n gedeelde aksieplan. Saam kan ons die Oos-Rand ’n beter plek maak,” voeg Olckers by.
AfriForum hoop om teen einde Mei formele terugvoer van die metro te ontvang. Intussen sal beplanning vir verdere selfdoenprojekte voortgaan.
Om deel te wees van ’n selfdoen-oplossing in jou gemeenskap, besoek www.wordlid.co.za.