AfriForum maan Matjhabeng-munisipaliteit al lank oor water – nou is E. coli in reservoir gevind
AfriForum het oor die afgelope paar maande herhaaldelik skrywes aan die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gerig en gewaarsku oor die agteruitgang van die waterinfrastruktuur, insluitend die waterwerke, pompstasies en pyplyne. Ondanks hierdie waarskuwings, het die munisipaliteit vandag die inwoners van Virginia, Meloding, Kitty, Sibanye en Joel Myn gemaan dat die Dirksburg-reservoir in Virginia met Escherichia coli (E. coli) besmet is.
“Die kennisgewing dat inwoners voorts voorsorg moet tref voordat hulle van die reservoir se water gebruik wil maak, is uiters teleurstellend, aangesien AfriForum al telkemale die munisipaliteit aangeraai het om die nodige voorsorg te tref om dié krisis te vermy. Dit is weereens ’n bewys van die growwe wanbestuur van die munisipaliteit se watervoorsieningstelsel, wat nou beduidende risiko’s vir openbare gesondheid inhou,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet waarborg uitdruklik elke persoon se reg op toegang tot voldoende water kragtens artikel 27(1)(b) en verplig munisipaliteite kragtens artikel 152(1)(b) om dienslewering, insluitend toegang tot skoon en veilige drinkwater, op ’n volhoubare manier te verseker.
Die Wet op Munisipale Stelsels 32 van 2000 hou munisipaliteite verder aanspreeklik vir die lewering van dienste op ’n finansiële en omgewingsvolhoubare manier, met voorsiening vir ingryping waar minimum standaarde nie nagekom word nie.
Die teenwoordigheid van E. coli in die watervoorsieningstelsel is boonop ’n duidelike oortreding van die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS 241), wat streng vereistes vir waterkwaliteit uiteensit. Hierdie mislukking stel nie net inwoners in gevaar nie, maar verontagsaam ook die munisipaliteit se grondwetlike en statutêre verpligtinge.
Boonop bepaal die Wet op Openbare Finansiële Bestuur 1 van 1999 en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur 56 van 2003 dat finansiële wanbestuur wat swak dienslewering tot gevolg het, soos swak waterkwaliteit, tot regstappe teen verantwoordelike munisipale amptenare kan lei.
“Die aanhoudende waterkwaliteitkwessies in Matjhabeng is ’n direkte gevolg van wanbestuur en is dus nie net onaanvaarbaar nie, maar ook onwettig,” sê Ikking.
AfriForum eis ’n remediërende plan en versoek die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit om nie net dringend stappe te doen om hierdie krisis reg te stel en veilige drinkwater te verseker nie, maar om ook die sistemiese mislukkings aan te pak wat tot hierdie skending van inwoners se regte gelei het.
Die burgerregteorganisasie raai inwoners aan om alle water wat vir drink, kook of mondhigiëne bedoel is, te kook tot verdere kennisgewing.