President se mooipraaitjies oor oplossings vir waterkrisis bloot politieke teater
President Cyril Ramaphosa se beloftes om onmiddellike oplossings vir die land se waterkrisis te vind, is ’n sprankelende voorbeeld van die regering se mooi preke maar niks meer as ’n meesterklas in die misbruik van die openbare diskoers nie, meen AfriForum. Ramaphosa het dié beloftes gemaak tydens sy hoofrede by die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se Indaba op 27 en 28 Maart by die Gallagher-konvensiesentrum in Midrand. Kritieke uitdagings waardeur die watersektor in die gesig gestaar word, is tydens die beraad geïdentifiseer waaronder verouderende infrastruktuur, swak bestuur en instandhouding van infrastruktuur, misdadigheid soos onwettige aansluitings, vandalisme en afpersing deur watermafias, onbeheerste uitbreiding van informele nedersettings, korrupsie, finansiële wanbestuur en uitermatige hoë skuldvlakke.
“Dit is ironies dat die Water en Sanitasie Indaba nou geposisioneer word as ’n sogenaamde bewys van die regering se onwrikbare verbintenis om die watersektor se uitdagings te oorkom, samewerking oor alle vlakke van die samelewing te bevorder en die regering se toewyding te versterk om te verseker dat elke Suid-Afrikaner toegang het tot veilige, betroubare water- en sanitasiedienste,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Dít terwyl elkeen van die kritieke uitdagings wat geïdentifiseer is, hul oorsprong in die ANC se swak regering vind. Dit is ’n erkenning van skuld en geen van die ‘uitdagings’ kan oorkom word as die hoofoorsaak daarvan – die ANC-regering – nie aangespreek word nie.”
Die DWS bemark die Indaba as ’n samekoms van verskeie rolspelers vanuit die regering se presidensiële watertaakspan, waterrade en munisipaliteite, sowel as die sakesektor, waterdeskundiges én burgerorganisasies. Adjunkpresident Paul Mashatile en die voormalige minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, het selfs in April verlede jaar aangekondig dat die nasionale regering bereid is om AfriForum en ander rolspelers in die burgerlike gemeenskap by die regering se watertaakspan te betrek. Tog is AfriForum nie eens uitgenooi om aan die Indaba se gesprekke deel te neem nie.
“Dit het ’n ernstige knou aan ons vertroue in die regering toegedien, want duidelik word ’n skyn van samewerking voorgehou, maar dit is nou duidelik ontbloot as niks meer as opportunistiese en oneerlike politieke teater nie,” sluit De Vaal af.
AfriForum voer aan dat enige planne om die waterkrisis op te los, verdoem is om te misluk tensy regeringsamptenare wat hulle verpligtinge ten opsigte van water- en sanitasiedienslewering versaak, persoonlik daarvoor verantwoordelik gehou word. Verder moet bevoegde mense in openbare poste aangestel word en die privaatsektor en burgerlike organisasies moet toegelaat word om praktiese oplossings aan gemeenskappe te bied wat onder die regering se gebrekkige dienslewering ly.