|

Oorvloed van geleenthede wag op Pretoria ná AfriForum Sakenetwerk bestuur verkies

AfriForum Sakenetwerk se nuutgestigte plaaslike sakenetwerk in Pretoria het gister ’n bestuur aangewys om plaaslike ondernemings te help om van krag tot krag te gaan. Hierdie sakenetwerk is die tweede van sewe plaaslike sakenetwerke – wat onlangs deur AfriForum Sakenetwerk gestig is – om ’n bestuur te verkies.

Die bestuur is verantwoordelik daarvoor om verskillende ondernemings aan mekaar voor te stel, verwysingsbemarking te fasiliteer, die gemeenskap te rugsteun, handelsmerke te versterk en verhoudinge met ander ondernemings in die gebied te bou.

AfriForum Sakenetwerk se Pretoria-bestuur is op 18 Maart verkies en bestaan uit Hanno Pienaar (entrepreneur wat by verskeie koffiewinkels, restaurante, plase en meer betrokke is) as voorsitter, Sampie Steinberg (AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture in die Noordstreek) as ondervoorsitter en tesourier, Nikkie Kriel (Akademia) as sekretaris en koördineerder van die sosiale-portefeulje vir Centurion, Lizel van der Westhuizen (Full Circle Image) as koördineerder van die sosiale-portefeulje in Pretoria-Noord, Suzaan Sutherland (Sutherland Print) as koördineer van die sosiale-portefeulje in Pretoria-Oos en Salomien Boshoff (Akademia) as koördineerder vir mentorskap en opleiding.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, sê Pienaar is vuur en vlam oor Pretoria se plaaslike sakenetwerk. Hy is gedrewe en het een doel voor oë en dit is om die hoofstad se sakenetwerk só te laat groei dat entrepreneurs ’n oorvloed van geleenthede het. “Voer uit, moenie wag nie. Werk hard, eerlik en effektief,” was Pienaar se woorde aan die nuwe bestuur.

Die stigting van dié plaaslike sakenetwerk en die aanstelling van ’n bestuur beteken dat ondernemings in Pretoria werklik kan saamwerk en floreer. “AfriForum Sakenetwerk besef dat ondernemings en entrepreneurs dikwels die hart van ’n gemeenskap is, so wanneer ’n onderneming floreer, floreer ’n gemeenskap,” sê Van der Walt.

Pretoria se plaaslike sakenetwerk se eerste netwerkgeleentheid vind op 16 April om 19:00 plaas by Cheese Louise in Hazelwood. Enigeen wat by hierdie geleentheid wil aansluit, word genooi om in te skakel of Hanno Pienaar (voorsitter) te kontak by 082 383 9205 vir meer inligting.

AfriForum Sakenetwerk bied verskeie voordele aan ondernemings wat by die netwerk aansluit. Behalwe vir die werkswinkels oor finansies, belasting, operasionele sake, administrasie en bemarking, wat teen ’n minimale koste deur Akademia aangebied word, word maandelikse netwerkgeleenthede ook aangebied.

Klik hiér vir meer inligting oor AfriForum Sakenetwerk en sy plaaslike sakenetwerke.

Soortgelyke plasings