Centurion Christelike Laerskool gerat om boelies met Jesus-liefde te hanteer
AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 6 Maart by die Centurion Christelike Laerskool besoek afgelê en 76 leerders oor afknouery in skole toegespreek. Die teenboelieveldtog het ten doel om leerders bewus te maak van boeliegedrag, die gevolge daarvan en hoe om boelies te hanteer.
Die leerders het geleer om kalm en selfversekerd teenoor boelies op te tree, om nie emosioneel te reageer nie en om die nodige ondersteuning by vriende en volwassenes te kry. Hierdie faktore kan die mag van die boelies verminder. Om boeliegedrag aan te meld en ander te help wat geboelie word, skep ’n gemeenskap waar afknouery nie geduld word nie. Boonop kan dit ’n sterk boodskap stuur om ’n boelie eerder met Jesus se liefde te hanteer en iets mooi of bemoedigend vir hom te sê, want vriendelikheid en vergifnis het die krag om harte te verander.
“Dit is belangrik vir kinders om die regte feite te hoor oor wat boeliegedrag is. Die woord word deesdae so maklik gebruik onder kinders sonder dat hulle weet wat boeliegedrag werklik is,” sê Melodie Kruger, administratiewe beampte by die Centurion Christelike Laerskool.
“Dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die teenboeliepraatjie bywoon wat die volle wapenrusting van God as grondslag gebruik, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie maar ook in die toekoms. Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die noordstreek en aanbieder van die teenboeliepraatjies.
Laai AfriForum se gratis teenboeliegids hier af. Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.

