|

Premier kan nie vrot Modimolle-vullisterrein miskyk ná AfriForum-uitnodiging nie

AfriForum se Nylstroom-tak het ’n formele uitnodiging aan dr. Phophi Ramathuba, premier van Limpopo, gerig om die vullisterrein buite Modimolle (Nylstroom) te besoek en eerstehands te sien in watse haglike toestand dit is. Hierdie uitnodiging volg nadat die munisipale bestuurder van die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit nog geen terugvoer aan die burgerregteorganisasie gegee het rakende ’n plan om dié vullisterrein te rehabiliteer nie.

Die Modimolle-vullisterrein het in die afgelope ses jaar geen van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudits geslaag nie weens onder meer die gebrek aan behoorlike sortering en verwydering van vullis en die teenwoordigheid van gevaarlike afval. Dit blyk ná AfriForum se jongste besoek asof dié terrein weer nie vanjaar aan die minimum wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur gaan voldoen nie. Die jaarlikse vullisterreinoudit bepaal of vullisterreine aan die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.

Die feit dat die vullisterrein nie eers aan ’n paar van die wetlike vereistes voldoen nie, is duidelik ’n aanduiding van die ernstige tekortkominge in die bestuur en onderhoud daarvan. AfriForum is bekommerd oor die huidige toestand van die vullisterrein en glo dat die premier se teenwoordigheid en kennisname van die probleem, ’n belangrike stap kan wees om die nodige aandag aan die vullisterrein te gee.

“AfriForum se Nylstroom-tak nooi die premier uit om self die toestand van die vullisterrein te sien en saam met die burgerregteorganisasie te werk aan ’n oplossing,” sê Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo. “Dit is tyd dat die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit verantwoordelikheid neem en die nodige stappe doen om die vullisterrein te rehabiliteer, anders gaan die omgewing en die inwoners se gesondheid voortgaan om daaronder te ly.”

AfriForum sal voortgaan om druk op die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit te plaas om ’n effektiewe plan van aksie saam te stel om die vullisterrein te rehabiliteer. AfriForum wag intussen op terugvoer van die premier, waarna planne gemaak sal word om saam die terrein te besoek.

Soortgelyke plasings