|

AfriForum gereed vir Valke-ondersoek na hoogverraad

Video: Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, oor die Valke se ondersoek.

Daar is géén regsgronde vir die klagtes van hoogverraad wat teen AfriForum aanhangig gemaak is nie. Daarom meen Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal hy geen slaap hieroor verloor nie en is dié burgerregteorganisasie gereed vir die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) se ondersoek na dié klagtes. Kriel het vanmiddag Suid-Afrikaanse tyd vanuit die VSA só gereageer op die nuus dat die Valke nou vier klagtes van hoogverraad teen AfriForum ondersoek.

Kriel is deel van ’n afvaardiging van AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Beweging wat sedert verlede week met politici en ander rolspelers in die VSA vergader ter bevordering van die belange van Afrikaners en Suid-Afrika.

“Daar is eenvoudig géén regsgronde vir die klagtes nie, maar sou die staat besluit om voort te gaan met hul stappe teen AfriForum, sal dit ons punt versterk dat daar ANC-leiers is wat die staatsmasjinerie misbruik om teen ’n deel van die land se gemeenskap te regeer,” verduidelik Kriel. Hy hou vol dat dié misbruik plaasvind terwyl ANC-leiers wat deur die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping geïmpliseer is van korrupsie, skotvry daarvan afkom.

Kriel benadruk voorts dat enige potensiële hofverskyning aan AfriForum die platform sal bied om uit te wys hoe dislojaal ANC-leiers optree teenoor gewone mense van die land deur met die land se toekoms te dobbel. Dit word volgens Kriel gedoen deur middel van roekelose beleidsrigtings soos die Onteieningswet, die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela), rassediskriminasie en ’n onverskillige buitelandse beleid.

AfriForum het nog geen amptelike kennis van die Valke se ondersoek ontvang nie.

Die afvaardiging na die VSA sit intussen hul besoek en gesprekke met rolspelers vandeesweek voort.

Soortgelyke plasings