|

AfriForum-buurtwag op De Rust slaggereed om misdaad te bekamp

Die AfriForum-buurtwag in De Rust het vroeër vandeesweek ’n nuwe bestuur verkies en ’n strategie saamgestel om misdaad op dié Klein Karoo-dorp hok te slaan.  

Die nuwe bestuur van die De Rust-buurtwag sluit Johan Olivier in, wat as buurtwagleier verkies is; Werner Alberts, operasionele spanleier; Jan Venter, inligtingspanleier; en Christel Olivier, steunspanleier.

Die reorganisering van die buurtwag volg ná ’n vlaag van inbrake en betredings in die gebied. Talle inwoners was selfs deur kwaaddoeners met klippe bestook. Die grootste oortreders in die dorp is glo kinders wat skool verlaat of weier om skool te gaan. Dié kinders bedel eerder of soek na geleenthede om te steel.

Tydens die vergadering het David Olivier, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die Suidstreek, die wetlike prosedures verduidelik om hierdie kinders vas te vat en van die strate af te kry.

“Om in die strate rond te loop en skoor te soek, plaas hierdie kinders hulself en ander inwoners in gevaar,” sê Olivier. “Die Wet op Kindergeregtigheid van 2008 maak voorsiening vir kinders wat in stryd is met die wet om die nodige hulp te ontvang om hul lewens reg te ruk en produktiewe lede van die samelewing te word. AfriForum is van voorneme om toe te sien dat hierdie prosedure gevolg word met die minderjarige kwaaddoeners op De Rust.”

Die nuwe buurtwag sal die nodige opleiding en toerusting ontvang om te verseker dat hulle toegerus is om hul take veilig uit te voer.

Raak vandag nóg by jou naaste buurtwag betrokke en help om jou gemeenskap veilig te hou. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings