Terwyl AfriForum-buurtwagte floreer, stort SAPD se reservisteprogram in duie
Die gestadige afname van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se reservisteprogram oor die afgelope paar jaar is uiters kommerwekkend vir AfriForum, gegewe dat honderde burgers meer as bereid is om by te dra tot die beskerming van hul woonbuurte deur AfriForum se 177 buurtwagte landwyd.
Onlangs het slegs 57 nuwe reserviste-rekrute hul eerste fase opleiding in die Vrystaat voltooi, maar hierdie opleiding word nie konsekwent landwyd aangebied nie. Terwyl die SAPD jaarliks bykans R6 miljard begroot om nog sowat 30 000 polisiebeamptes teen 2026 te werf, het die polisie toegelaat dat sy allerbelangrike reservistekorps die afgelope dekade met ’n verbysterende 90% krimp. Hierteenoor het AfriForum se buurtwagte die afgelope twee jaar met sowat 15% gegroei.
“Dit is ’n bewys dat burgers gretig is om hand by te sit in die stryd teen misdaad. Die SAPD se versuim om genoeg reserviste byderhand te hou, bring nie net gemeenskapsveiligheid in gedrang nie, maar laat ernstige vrae ontstaan oor die SAPD se verbintenis tot die versterking van wetstoepassers se hulpbronne,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
Weens die SAPD se versuim om ’n deurslaggewende kragvermenigvuldiger in die bekamping van misdaad te handhaaf, het AfriForum ’n formele aansoek ingevolge die Wet op Openbare Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien om deursigtigheid te eis oor die SAPD se hantering van die reservisteprogram. AfriForum het onder meer gevra om ingelig te word oor die aantal polisiereserviste wat sedert 2010 tot einde 2024 gewerf is; hoeveel reserviste tans aktief is; en hoe gereeld nuwe reserviste opgelei word.
“Die drastiese vermindering in reserviste-getalle dui óf op growwe wanbestuur óf ’n doelbewuste poging om kritieke gemeenskapspolisiëringsmeganismes aan die kantlyn te hou. Die SAPD het herhaaldelik versuim om die noodsaaklike rol te erken wat reserviste speel om ’n reeds oorspanne polisiemag by te staan. Gemeenskappe regoor Suid-Afrika ly daagliks as gevolg van stygende misdaad, maar tog kon die SAPD nie ’n program handhaaf en versterk wat aansienlik kan help om hierdie krisis in die kiem te smoor nie,” sê Broodryk.
AfriForum dring aan op totale deursigtigheid van die SAPD en werkbare oplossings vir hierdie kwessie. AfriForum sal nie leë beloftes of burokratiese ontduiking duld nie. Die ineenstorting van die reservisteprogram is ’n reusemislukking deur die polisieleierskap. AfriForum doen daarom ’n beroep op die minister van Polisie en die SAPD om verantwoording te doen vir hierdie nalatigheid.
Wetsgehoorsame burgers wat as reserviste wil dien, moet die geleentheid gebied word om by te dra tot gemeenskapsveiligheid. Indien die SAPD nie daarin slaag om die gemeenskap só ’n geleentheid te bied nie, kan burgers by een van AfriForum se vele buurtwagte landwyd aansluit. Klik hier om kragte saam met AfriForum se buurtwagte te snoer.