|

Menseregte in gedrang sou Eskom 15 dorpe in donkerte hul oor munisipale wanbestuur – AfriForum

Eskom se voorneme om voor Paasnaweek kragtoevoer na 15 Vrystaatse dorpe te verminder of heeltemal af te sny weens wanbetaling deur vier munisipaliteite, is nie net onbillik teenoor die inwoners van hierdie dorpe nie, maar kom neer op moontlike menseregteskendings. AfriForum eis dat Eskom en die nasionale regering munisipale amptenare verantwoordbaar hou vir die growwe wanbestuur van munisipale finansies, eerder as om betalende inwoners van basiese regte te ontneem.

Die Menseregtekommissie (MRK) is tans in die proses om te bepaal watter menseregte moontlik geskend word deur die implementering van kragvermindering. Dit wil vir AfriForum voorkom asof die gemeenskappe in die Nala-, Moqhaka-, Masilonyana- en Ngwathe-munisipaliteite teen 17 April moontlik van hul reg op gelykheid, menswaardigheid en toegang tot basiese dienste ontneem sal word sou Eskom met hierdie plan voortgaan.

“Benewens hierdie menseregtevergrype, sal gemeenskappe ook ekonomiese ontberings moet deurmaak, terwyl hospitale, klinieke en tehuise wat kwesbare mense dien, gebuk sal gaan onder die las wat kragonderbrekings op hul bedrywighede plaas,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Korrupte amptenare hou dorpe in ’n wurggreep deur nie munisipale kragskuld te vereffen nie, maar nou word daar van gemeenskappe verwag om die gevolge te dra. Dit terwyl die amptenare wat vir die penarie verantwoordelik is, skotvry daarvan afkom. Dit kan doodeenvoudig nie geduld word nie.”

Die enorme bedrae wat die vier munisipaliteite aan Eskom skuld is weens jarelange wanbestuur van inwoners se geld. Hoewel munisipaliteite lank reeds versuim om hul verpligtinge teenoor Eskom na te kom, moet korrupte praktyke op munisipale vlak dringend in die kiem gesmoor word.

“AfriForum sal nie skroom om hom tot die MRK te wend of regstappe te doen indien daar nie ’n werkbare oplossing vir hierdie dreigende krisis gevind word nie,” sê Steffens.

Luidens ’n kennisgewing deur Eskom, wat AfriForum onder oë gehad het, het inwoners tot 13 Maart om beswaar teen die moontlike kragvermindering of -onderbreking aan te teken. Die burgerregteorganisasie versoek geraakte gemeenskappe om hul stemme te laat hoor oor die situasie en hul geskrewe besware, kommentare en voorstelle by Eskom in te dien.

“AfriForum sal nie toelaat dat inwoners die gevolge dra vir die mislukkings van onbevoegde munisipaliteite nie. AfriForum sal voortgaan om hierdie saak op alle beskikbare platforms te beveg sodat gemeenskappe nie onbepaald in duisternis gedompel word nie,” sluit Steffens af.

Soortgelyke plasings