|

AfriForum Sakenetwerk kring uit om nóg meer ondernemings te ondersteun

AfriForum Sakenetwerk se reikwydte brei vandeesmaand nóg verder uit met die stigting van plaaslike sakenetwerke in sowat sewe streke. AfriForum Sakenetwerk, wat entrepreneurs landwyd in staat stel om mekaar op te spoor, aan te spoor en te ondersteun, het ter voorbereiding van die nuwe plaaslike netwerke ’n aanlyngids saamgestel waarop meer as 21 000 ondernemings reeds gevind kan word.

Die doel van die stigting van plaaslike sakenetwerke is om verskillende ondernemings aan mekaar voor te stel, verwysingsbemarking te fasiliteer, gemeenskappe te rugsteun, handelsmerke te versterk en verhoudinge met ander ondernemings in ’n gebied op te bou.

Die plaaslike sakenetwerk in Potchefstroom is reeds vroeër vandeesweek (Dinsdag) gestig, waarna plaaslike sakenetwerke in die Paarl (19 Februarie) volgende week gestig gaan word, gevolg deur Somerset-Wes (20 Februarie), Durbanville (21 Februarie) en die Suid-Kaap (George, Mosselbaai en omliggende dorpe op 25 Februarie). Die plaaslike sakenetwerke in Pretoria en Bloemfontein sal onderskeidelik op 28 Februarie en 5 Maart op die been gebring word. Die stigting van hierdie netwerke vind in samewerking met AfriForum se gemeenskapstrukture plaas.

AfriForum Sakenetwerk bied verskeie voordele aan ondernemings wat by die netwerk aansluit. Behalwe vir die werkswinkels oor finansies, belasting, operasionele sake, administrasie en bemarking, wat teen ’n minimale koste deur Akademia aangebied word, word maandelikse netwerkgeleenthede ook aangebied.

Die jaarlikse Tinteltong Toekennings, wat innoverende Afrikaanse ondernemings vereer, gaan voorts ook aangepas word om ondernemings in te sluit wat deel is van die plaaslike sakenetwerk. Hierdie toekennings erken die beste diens en produkte, met wenners wat bepaal word deur stemme vanuit plaaslike netwerke en die publiek.

“AfriForum Sakenetwerk besef dat ondernemings en entrepreneurs dikwels die hart van ’n gemeenskap is – dit is die mense wat die ekonomie op eie bodem aan die gang hou. AfriForum Sakenetwerk wil daarom hierdie netwerk nóg verder uitbrei sodat elke entrepreneur in die land die geleentheid het om van hul onderneming ’n sukses te maak,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

AfriForum Sakenetwerk nooi ondernemings uit om deel te word van hierdie netwerk, wat entrepreneurs aan elke uithoek van Suid-Afrika met mekaar verbind.

Klik hier om deel te word van AfriForum Sakenetwerk se plaaslike sakenetwerke.

Soortgelyke plasings