|

Bethal-tak laat nie gras te lank onder sy voete groei nie

AfriForum se Bethal-tak het die afgelope maand gespook om die dorp netjies te kry deur al wat ’n grasperk, park en groenstrook met ’n grassnyer by te kom. Die tak het selfs die gronde van die plaaslike polisiestasie meer toeganklik gemaak.

Die Bethal-tak se buurtspan het vroeg in Januarie aan die werk gespring en die grasperke by die polisiestasie gesny. Die area moet maklik toeganklik wees vir die rits mense wat daagliks die perseel besoek. Die polisiestasie is boonop langs een van die dorp se hoofroetes en word gereeld deur motoriste raakgesien.

Verder het die buurtspan die gras langs die N17, wat deur die dorp sny, se rante gesny en meer as vier vragte tuinvullis weggery. Die sypaadjies was toegegroei onder lang gras, wat gemaak het dat voetgangers nie veilig langs die pad kon stap nie.

Terwyl die buurtspan die gras om die brug in Malherbestraat, waar die Nestlé-fabriek eens was, gesny het en die area om die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) skoongemaak het, het gemeenskapslede raakgesien wat AfriForum probeer bereik en hand bygesit. Vrywilligers het broodnodige mannekrag gebied en saam met die buurtspan gehelp om die rotstuin by die driehoek naby die brug te onderhou. Bethal Traders het ook die naburige vlei getem en bossies gesny en weggery.

“Die Bethal-tak is nog lank nie klaar met die dorp nie. Die komende paar weke gaan groot projekte aangepak word om die gebied te verbeter,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak. “AfriForum moedig mense aan om hand by te sit met die skoonmaak en verfraaiing van Bethal. Elkeen kan ’n verskil maak.”

Besoek www.wordlid.co.za om by die tak aan te sluit en broodnodige ondersteuning aan sy buurtspan te bied.

Soortgelyke plasings