Oudtshoorn-tak pak parke en slaan toe op skurke tydens feestyd
Die AfriForum-tak en -buurtwag in Oudtshoorn het hul nie van stryk laat bring deur die feesvieringe gedurende Desember nie, maar het voortgegaan om skoonmaak- en veiligheidsprojekte aan te pak om aktief hul gemeenskap te dien.
Die tak het die afgelope maand baie tyd en moeite aan die parke in Luscombe- en Middelstraat spandeer om dit in ontspanningsruimtes te omskep wat die gemeenskap behoorlik kan benut.
Die tak het onder meer:
- vullisdromme by die bogenoemde parke laat installeer. Die vullis word weekliks uit die dromme verwyder;
- na raming 12 000 m² se gras gesny;
- ongeveer 6 000 m² se grasperke daagliks besproei. Die water en pyp word deur die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit verskaf en die sproeiers en arbeid deur AfriForum;
- beide parke se onkruid gespuit en bemesting ingewerk; en
- stukkende klimrame by die Middelstraat-park in samewerking met die munisipaliteit herstel.
Verder het die buurtwag weekliks die strate gepatrolleer om kwaaddoeners weg te hou en by twee voertuigbeheerpunte aangesluit, wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die provinsiale verkeerspolisie aangebied is. Die buurtwag het ook onwettige rommelstortings gerapporteer.
Die buurtwag het verder die SAPD gehelp om ’n persoon vas te trek wat motors se bande stukkend gesteek het. Die verdagte het ’n buurtwaglid se gesin se motors bygekom, waarna die buurtwaglid dadelik die res van die buurtwag se hulp ontbied het. Die verdagte is danksy die deeglike samewerking tussen die buurtwag en die SAPD vasgetrek.
Die tak het ook tientalle energiestafies aan plaaslike brandweerspanne geskenk, terwyl hulle onlangs brande buite Oudtshoorn geblus het.
Donovan Kleinhans, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak, sê hulle is dankbaar vir die goeie samewerking wat in die gemeenskap heers, en moedig mense aan om by nog projekte betrokke te raak. “Projekte soos hierdie is slegs moontlik omdat lede van die gemeenskap hand opsteek en eienaarskap neem. Ons sien uit om in die komende jaar nog baie meer suksesse te bereik.”
Stuur ’n e-pos na oudtshoorn@afriforumtak.co.za, of skakel Kleinhans by 083 375 8818 om by die tak betrokke te raak. Besoek afriforum.co.za vir meer inligting.