Phalaborwa-tak ploeg terug in gemeenskap
AfriForum se Phalaborwa-tak het die afgelope naweek teruggeploeg in die gemeenskap deur die bejaardes van die dorp en hul geliefdes met ’n ete te bederf. Die inwoners van Bouganvilla versorgingsentrum was Sondag genooi om die dag te geniet en is hiertydens vereer vir hul insae in die gemeenskap oor die jare heen.
“Dis te danke aan die gemeenskap, asook ondernemings se skenkings, soos dié deur Pick ’n Pay, dat AfriForum die pioniers van Phalaborwa op hul oudag kon vereer,” sê Hardus Fourie, voorsitter van AfriForum se Phalaborwa-tak.
Die bejaarde inwoners van Phalaborwa is ’n groep wat veral deur hierdie AfriForum-tak ondersteun word, veral in tye van nood. Phalaborwa se gereelde wateronderbrekings het genoodsaak dat AfriForum ’n noodwaterpunt by Laerskool Phalaborwa oprig, asook ’n watertenkwa beskikbaar stel wat water by bejaardes aflewer wat nie daartoe in staat is om self water af te haal nie.
Benewens die werk wat die tak doen om kwesbare gemeenskapslede te ondersteun, was die tak ook die afgelope maand doenig met opknappings op die dorp. Die tak het onder meer sypaadjies skoon gesny en spoedhobbels geverf om Phalaborwa op te kap voordat al die vakansiegangers aan die Kruger Nasionale Park daardeur ry.
“AfriForum is daartoe verbind om ’n vry, veilige en voorspoedige gemeenskap in Phalaborwa te kweek en met al die inwoners se insae is dit moontlik om hierdie droom te verwesenlik,” sê Hendrik Kotzé, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.
Raak vandag nóg by AfriForum se Phalaborwa-tak betrokke deur ’n epos aan hendrik.kotze@afriforum.co.za te stuur.